Bedrogsaak Gepaste Vonnis Gevra Yengeni 'Het Geen Berou' |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-02-18 |
Reporter |
Sonja Carstens |
`Hy is deur media opgekap, geslag en opgehang om droog te word'
Tony Yengeni, voormalige hoofsweep van die ANC, het nie berou dat hy uit gierigheid sy posisie in die parlement misbruik het om 'n spoggerige motor te kry nie.
``Yengeni was nie behoeftig nie, maar het 'n uitspattige leefstyl gehandhaaf. As dié saak die einde van sy politieke loopbaan beteken, kan hy net homself blameer,'' het adv. Gerda Ferreira, aanklaer, gister in die handelshof in Pretoria gesê.
Volgens Ferreira het Yengeni as voorsitter van die parlement se staande komitee oor verdediging geweet dit is 'n botsing van belange om afslag van 50% op die Mercedez-Benz ML320 van 'n potensiële wapenverskaffer te kry.
``Die is nie nodig om te bewys dat Yengeni beplan het om mnr. Michael Woerfel van European Aeronautic Defence and Space Company (EADS) se belange te bevorder nie. Dit is die indruk wat sy optrede by die publiek geskep het wat tel.''
Yengeni het verlede week skuld beken op aanklag van bedrog. Luidens sy pleitverduideliking het hy geweet dat Woerfel nie vir hom die afslag sou gee as hy nie dié posisie beklee het nie.
Woerfel was verantwoordelik vir die bemarking van Daimler-Chrysler Aerospace se produkte in Suid-Afrika en het getender vir die regering se omstrede multimiljardrand-wapentransaksie.
Adv. Viwe Notshe, Yengeni se regsverteenwoordiger, het betoog sy kliënt is deur die media ``geslag, opgekap en opgehang om droog te word''.
``Dié motor is die duurste 4x4 in Suid-Afrika. Die regskoste van dié saak het reeds die afslag opgevreet wat Yengeni ontvang het.
``Sy salaris is verminder nadat hy uit sy pos as hoofsweep onthef is. Voor u is 'n man wat besluit het om in 'n swaard te val deur skuld te beken. Hy is 'n eerste oortreder, 'n gesinsman en 'n pa van twee,'' het Notshe gesê.
Volgens Notshe het Yengeni R3 000 van sy salaris per maand oor ná sy aftrekkings. Hy kan 'n boete bekostig waaraan hy R1 000 per maand kan afbetaal.
Ferreira het gesê dit is nie aanvaarbaar nie en die hof gevra om 'n gepaste vonnis op te lê. Landdros W.W.P. Moyses het die saak tot 19 Maart vir vonnis uitgestel.
With acknowledgements to Sonja Carstens en Die Burger.