Publication: Rapport Issued: Date: 2003-06-01 Reporter: Pieter Malan

'n Doring in die Wapen-Vlees

 

Publication 

Rapport

Date 2003-06-01

Reporter

Pieter Malan

Web Link

www.naspers.com

'n ``Jintelman-litigeerder'' noem pres. Thabo Mbeki dr. Richard Young, besturende direkteur van CCII Systems, een van die groot dorings in die vlees van die regering as dit by die openbaarmaking van beweerde korrupsie in die wapenaankoopproses kom.

``Wel, ten minste is ek 'n jintelman en nie 'n rassis nie,'' sê Young, met verwysing na Mbeki se uitbarsting in die ANC se internetnuusbrief, ANC Today, waarin hy koerante en joernaliste se kritiek op die wapenaankoopproses as rassisties afmaak.

Sy stryd teen die wyse waarop kontrakte en subkontrakte in veral die vloot se korvetverkrygingsprogram toegeken is, het kort ná die toekenning van die kontrakte in 1999 reeds begin. Young sê hy het reeds genoeg bewyse van growwe onreëlmatighede in die wapenaankoop-proses om die regering te dagvaar vir skadevergoeding vir die manier waarop die kontrakte toegeken is.

CCII Systems, die maatskappy wat Young oor sowat tien jaar opgebou het, doen sake in 'n beskeie gebou in Kenilworth, een van Kaapstad se suidelike voorstede.

Hier ontwikkel hulle 'n wye reeks elektroniese stelsels, die meeste daarvan vir maritieme gebruik. Dié stelsels word vandag deur al die Westerse vlote (behalwe dié van Frankryk) gebruik, insluitend die nuutste geslag San Antonio-klas- Amerikaanse aanvalskepe en in die Amerikaners se nuutste vliegdekskip, die USS Ronald Reagan.

Met dié stelsel word al die inligting wat op 'n moderne oorlogskip ingesamel word op gekoördineerde wyse verwerk. So byvoorbeeld moet inligting wat deur die radar- en sonarstelsels ingesamel word, verwerk en aangestuur word na die missiele, kanonne en ander wapenstelsels op die skip.

Young se inligtingbestuurstelsel werk volgens die sogenaamde inprop-en-speel-beginsel (plug-and-play), soortgelyk aan dié van moderne tuisrekenaars.

Dit beteken dat wapenstelsels, sonars en radars betreklik vinnig en goedkoop opgegradeer en vervang kan word sonder dat dit nodig is om duur en tydsame veranderings aan die res van die stelsel aan te bring.

Tydens die proses wat die wapenaankope voorafgegaan het, is die moderne voordele en doeltreffendheid van sy stelsel deur senior offisiere van die Suid-Afrikaanse vloot erken en hulle het aan die departement van verdediging aangedui dat dit hul voorkeurstelsel is.

Desondanks het die departement besluit om nie Young se tender van R37,8 miljoen te aanvaar nie, klaarblyklik omdat dit beskou is as 'n hoërisiko-item. African Defence Systems (ADS), 'n lid van die Duitse Fregat-konsortium, het daarom 'n ``risiko-lading'' van meer as R40 miljoen by die prys van CCII Systems se tender gevoeg.

Die besluit oor die risikolading (wat uiteindelik die toekenning van die tender ten gunste van 'n Franse maatskappy Thomson CSF geswaai het) is klaarblyklik geneem op 'n vergadering van 'n verdedigingsubkomitee, die Project Control Board, wat op 19 Augustus 1999 gehou is. Ondersoekers na die wapenaankoopproses kon egter geen notules van dié belangrike vergadering vind nie en niemand weet vandag wie die besluit geneem het of wat daar gesê is nie.

Young sê sy stryd teen die toekenning van die kontrak aan 'n teenstander gaan lank reeds nie meer om die geld wat betrokke is nie.

`` 'n Mens moet korrupte mense aan die pen laat ry,'' sê hy met die oortuiging van een wat reeds op sy maatskappy se webwerf een van die beste argiewe van nuusberigte oor die wapenskandaal in die land geskep het. Dit bevat meer as 2 000 berigte van koerante en nuusagentskappe van oral ter wêreld.

``Kyk 'n bietjie na die lys van mense wat hulle al teen die wapenskandaal uitgespreek het en vra jou af waar hulle nou is.''

Hy verwys na oudregter Willem Heath se ondersoekeenheid wat ontbind is. Ook na die voorsitter van die staande komitee oor openbare rekenings (Skoor), die IVP se dr. Gavin Woods, wat bedank het. En na die ANC-parlementslid Andrew Feinstein. Die voormalige PAC-parlementslid Patricia de Lille het stil geraak en haar begin toespits op ander sake. Die DA se Raenette Taljaard is nie meer 'n lid van Skoor nie.

``Ek het nie 'n baas wat vir my kan sê jy moet nou ophou om aan die ding te krap nie.'' Om dié rede glo hy dis sy burgerlike plig om nie tou op te gooi nie.

'n Mens kan aanvaar dat dié verantwoordelikheidsin al 'n hele paar rand aan regskoste beloop het.

In November verlede jaar het hy sy saak teen die OG, mnr. Shauket Fakie, gewen en die openbare beskermer, adv. Selby Baqwa, die direkteur van openbare vervolging, adv. Bulelani Nquka, en die minister van verdediging, mnr. Mosiuoa Lekota, daardeur gedwing om inligting rakende hul ondersoek na die wapentransaksie aan hom bekend te maak.

Hy het ook reeds vier mense gedagvaar weens lasterlike bewerings teen hom: die hoof van die vloot se korvetprogram, skout-admiraal Johnny Kamerman, adv. Yunis Shaik, 'n verteenwoordiger van die Workers College, wat 'n klein aandeel in een van die wapenkontrakte het, mnr. Pierre Moynot, uitvoerende hoof van ADS, en Baqwa het reeds almal dagvaardings van Young ontvang.

``Ek raak net betrokke by sake wat ek kan wen,'' sê hy selfversekerd waar hy sit tussen stapels dokumente, sommige daarvan deur onbekende bronne voor sy deur afgelewer. ``Niks wat ek sê, kan ek nie bewys nie.''

Met erkenning aan Pieter Malan en Rapport.