Publication: Beeld Issued: Date: 2001-01-22 Reporter:

Gevaarligte

 

Publication 

Beeld, Kommentaar

Date 2001-01-22

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.co.za

 

Die besluit van pres. Thabo Mbeki om regter Willem Heath se spesiale ondersoekeenheid uit te sluit van die ondersoek na die regering se omstrede wapenstransaksies het die tafel gedek vir wat een van die Mbeki-regering se groot verleenthede kan word.

As voorgereg tot die drama wat hom waarskynlik gaan afspeel, het die PAC laat blyk dat 'n hofgeding teen Mbeki begin gaan word om hom te dwing om Heath se eenheid te betrek.

Omdat nóg Mbeki nóg sy minister van justisie, dr. Penuell Maduna, enige grondige redes aangevoer het waarom Heath se eenheid uitgesluit word en in die lig van al die omstredenheid oor die transaksies, is die kans seker baie goed dat 'n hof Heath se insluiting, objektief beoordeel, sal vereis. 'n Hof sal nie sy beslissing grond op persoonlike voor- en afkeure soos duidelik blyk uit Mbeki en Maduna se verklarings in verband met húl besluit nie.

Maar wat ook al met die hofgeding gebeur, is dit eintlik die hoofgereg op die spyskaart wat Mbeki nou voorberei het wat vir die regering vorentoe probleme kan gee.

Die publiek is nie onnosel of naief nie.

As dit nou nog nie vir Mbeki-hulle duidelik is dat die ernstige bewerings van ongerymdhede met die wapenkontrakte 'n onafhanklike ondersoek regverdig nie, hou hulle hul moedswillig dom.

Mbeki se sterkste argument is dat drie instansies reeds die transaksies ondersoek die openbare beskermer, die nasionale vervolgingsgesag en die ouditeur-generaal. Niemand trek enigeen van dié instansies se bekwaamheid in twyfel nie. Die feit bly egter staan dat al drie dié poste gevul word deur mense wat deur die regering (lees ANC) aangestel is. Terwyl dit juis prominente ANC-name is wat by die transaksies betrek word en dit juis die ANC (Mbeki ingesluit) is wat in die laaste dae venynige persoonlike aanvalle op Heath gedoen het, gaan die publiek se agterdog nie maklik deur dié drie instansies se betrokkenheid besweer word nie.

Mbeki het 'n goue kans weggegooi om die publiek van die regering se openheid en deursigtigheid met die wapentransaksies te oortuig. Dit lyk nou of hy en sy ministers se persoonlike, emosionele voorkeure voorrang bo die landsbelang geniet het. Dit is jammer.

Met erkenning aan die Beeld.