Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-04-30 Reporter: Carel van Dyk

Komponente vir Korvette Getoets

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-04-30

Reporter

Carel van Dyk

Kaapstad - Die toerusting van meer as ‘n halfmiljard rand wat uiteindelik deel van die nuwe korvette se gevorderde gevegsuite gaan wees, is pas in Simonstad aan die media gewys.

Volgens mnr. Doug Law-Brown, bestuurder van African Defence Systems (ADS), help die platform om die komponente wat deur verskeie subkontrakteurs gebou is, te toets voordat dit in die korvette geïnstalleer word.

ADS, die hoofkontrakteur, het meer as R1 miljard aan subkontrakte bestee.

Die verskeie komponente gaan uiteindelik met mekaar kommunikeer en ook aan ‘n sentrale gevegsbestuurstelsel gekoppel word.

Die stelsel gaan die inliging wat ingesamel word, ontleed en ‘n opsomming van die omstandighede op die skip aan die operateurs verskaf.

Indien ADS foute in the platform-stelsel kry, word die duplikaattoerusting in sy skure dadelik reggemaak.

Volgens Law-Brown word die huidige toerusting op die platform vir die vierde korvet gehou, terwyl gewysigde duplikate in die eerste drie korvette geïnstalleer sal word.

Die rede hiervoor is dat die onderskeie gevegsuites ook met mekaar moet kan kommunikeer en die platform gebruik gaan word om kommunikasie tussen die gevegsuites te toets.

Volgens hom toets ADS reeds die afgelope jaar die gevegsuite. Hy behoort teen November, wanneer die eerste korvet afgelewer word, klaar te wees.

“Natuurlik gaan omstandighede op die skip effens van dié op die platform verskil. Dit beteken daar kan nog probleme opduik. Maar ten minste sal ons teen daardie tyd weet waar om na die probleme in die stelsel te soek.”

Met erkenning aan Carel van Dyk en Die Burger.