Publication: Die Burger Issued: Date: 2002-12-18 Reporter: Bun Booyens en Adrian Lackay Editor:

Wapens : Korrupsie Bekyk

 

Publication  Die Burger
Date 2002-12-18
Reporter

Bun Booyens en Adrian Lackay

Web Link

http://www.news24.com/Die_Burger/Content_Display/burgerArchiveArticleDisplay/0,5823,4_1299011,00.html

 

Zuma bly in pos tydens ondersoek. As daar enige bewyse teen hom is, wil hy dit graag sien, sê Mbeki.

Adj.pres. Jacob Zuma sal "soos enige ander persoon" vervolg word as die nasionale vervolgingsgesag bewyse kry dat hy betrokke was by ongerymdhede met die regering se strategiese wapenaankope, het pres. Thabo Mbeki gister gesê.

Mbeki het in sy eerste openbare reaksie oor die kwessie egter voet by stuk gehou dat Zuma nie sy pos sal ontruim terwyl die Skerpioene bewerings teen die adjunkpresident ondersoek nie - die reg moet kans gegun word om sy beloop te neem.

"'n Geweldige klomp gerugte doen die ronde in Suid-Afrika," het 'n sigbaar geïrriteerde Mbeki in 'n lewendige woordewisseling met twee Britse joernaliste op 'n mediakonferensie gesê.

"As daar bewyse is (teen Zuma), sal ek dit graag self wil sien."

Zuma is Maandag as adjunkpresident van die ANC herkies.

Kwelvrae het egter verlede maand ontstaan ná mediaberigte dat hy na bewering omkoopgeld van R500 000 ontvang het om 'n maatskappy, Thompson-CF (nou Thales), te beskerm tydens die regering se ondersoek verlede jaar na korrupsie met sy multimiljard-rand-wapenpakket.

Dié bewerings is vervat in hofstukke wat tans deur die Skerpioene bestudeer word.

Mbeki het gister skerp gereageer toe 'n joernalis van die Britse tydskrif The Economist by hom wou weet of die bewerings oor Zuma nie sy (Mbeki) se uitsprake oor korrupsie weerspreek nie. "Wat is die probleem daarmee?" het Mbeki driftig geantwoord. "Julle behoort ons geluk te wens dat die Skerpioene die saak ondersoek. As die Skerpioene besluit daar is 'n saak waarvoor antwoorde gegee moet word, sal hy (Zuma) moet antwoord. Hulle (die Skerpioene) sal tot 'n slotsom kom en ons sal dienooreenkomstig reageer."

'n Joernalis van The Telegraph wou toe weet hoekom mnr. Tony Yengeni, die ANC se voormalige hoofsweep in die parlement, oor soortgelyke aantygings uit sy amp moes bedank terwyl Zuma nou toegelaat word om in sy pos aan te bly. Mbeki het gesê daar is nie 'n "vaste reël" hieroor nie. Yengeni het uit sy eie bedank nadat die Skerpioene hom amptelik aangekla het. Zuma, daarenteen, is in dié stadium slegs die skyf van vae aantygings.

"Wie het hierdie bewerings (oor Zuma) gedoen?" wou Mbeki by die verslaggewer weet.

"Dit is in hofstukke vervat," het hy geantwoord.

"Ja, maar wie het dit gedoen?"

Toe die joernalis hom nie kon antwoord nie, het Mbeki gesê: "Sien jy, juis dít is my probleem met die hele kwessie."

"Die saak (van Yengeni) is voor die howe en ek dink dit is 'n goeie ding. Die saak (van Zuma) is voor die Skerpioene en ek dink dis 'n goeie ding . . . maar in hierdie geval (Zuma) voer jy aan die adjunkpresident moet bedank bloot omdat die Skerpioene dit ondersoek.

"Laat die regsproses sy beloop neem," het Mbeki gesê.

"As ons die punt bereik waar amptelike klagte ingedien word, sal oor die situasie besin."

Volgens Mbeki sal hy (Zuma) aangekla word soos enige ander Suid-Afrikaner as bewyse teen hom gevind word.

________________________________

Just who was it that made these allegations against the innocent (until proven otherwise) Deputy-President Zuma?

Was it Rudolph the Red-Nosed Reindeer, The Easter Bunny, Alain Thetard, or was it Adv. Billy Downer?

Just who could it possibly be?

- R.M. Young

Met erkenning aan Bun Booyens, Adrian Lackay en Die Burger.