Wapentransaksie Nie Maklik Geskrap `Mense Vervolg, Maar Toerusting Bly' |
Publication | Beeld |
Date | 2001-04-19 |
Reporter |
Erika Gibson |
Web Link |
Dit is onwaarskynlik dat die wapenkontrakte gekanselleer sal word, selfs al word ernstige korrupsie bewys.
Volgens mnr. Helmoed Römer-Heitman van Jane's Defence Weekly skort daar ``in wese'' niks met die keuse van skepe, duikbote, helikopters en vegvliegtuie wat deel is van die transaksie van R43 miljard nie.
``My mening is dat sekere individue tydens dié keuringsproses moontlik die geleentheid gesien het om hulself te verryk.
``Dit is wêreldwyd 'n tendens dat wanneer daar onreëlmatighede by wapenkontrakte is, mense se koppe rol eerder as om die toerusting te verloor.''
Al vyf wapenkontrakte wat tans ondersoek word, bevat klousules waarvolgens dit deur Krygkor (die hoofaanskaffer vir die weermag) gekanselleer mag word as bewyse gevind word dat afpersing of omkopery deur die verskaffers plaasgevind het om die kontrakte te kry.
Dít geld vir amptenare van die departement van verdediging en van Krygkor. Dieselfde geld as bewyse gevind sou word dat van die hoofverskaffers werknemers of voormalige werknemers van dié departement of van Krygkor in diens geneem het vir die duur van die afhandeling van die kontrakte.
Van die bewerings rondom die ondersoek is dat ultimatums aan sekere verskaffers gestel is dat hulle die kontrakte sou kry op voorwaarde dat hulle sekere teenhandelprestasies aan voorkeurmaatskappye moes lewer.
In die kontrakte word onderskei tussen ``korrupteerder'' en ``gekorrupteerde''. Die verantwoordelikheid van korrupsie bly dié van die instansie wat die omkoopgeld betaal het en nie dié van die persoon wat omgekoop is nie.
Volgens Römer-Heitman is die beste onlangse voorbeeld van beweerde korrupsie tydens 'n wapentransaksie dié tussen Indië en Bofors, 'n Sweedse vervaardiger van 155 mm-kanonne.
Toe gerugte van beweerde omkopery tot op premiersvlak in Indië die ronde begin doen, het dié land enige verdere aankope van ammunisie van dié verskaffer tydelik opgeskort.
Ná meer as twee jaar is die ondersoek steeds aan die gang en was Indië verplig om met dié aankope voort te gaan sonder dat enige partye skuldig of onskuldig bevind is. Volgens Römer-Heitman geld dieselfde beginsel in Suid-Afrika: die weermag het die toerusting nodig, daar is meestal nie beter toerusting beskikbaar nie en die kontrakte sal behoue bly omdat die teendeel die weermag sal benadeel.
Met erkenning aan Erika Gibson en die Beeld.