Publication: Beeld Issued: Date: 2001-02-02 Reporter: Dries Liebenberg

Regering Sal Sy Onskuld Moet Bewys - Lekota

 

Publication 

Beeld

Date 2001-02-02

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.co.za

 

Durban. Die regering sal die indruk van korrupsie met die wapenaankope van R43 miljard moet afskud as hy beleggers wil lok en sy beloftes van werkskepping wil gestand doen.

As niks gedoen word oor die bewerings oor die wapenkontrakte nie, sal dit 'n presedent skep wat die land se demokrasie sal ondermyn, het mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, gister hier op 'n byeenkoms van die Nasionale Redakteursforum gesê.

Die huidige debat oor die ondersoek na beweerde ongerymdhede en of die Heath-eenheid deel daarvan moet wees, is ook 'n toets vir die grondwet, het Lekota gesê.

As daar iemand is wat omkoopgeld ontvang het, moet hy uitgesnuffel en aan die man gebring word.

Hy is vol vertroue dat 'n ondersoek sal toon dat die regering eerlik opgetree het tydens die proses. ``Dit beteken egter nie dat 'n individu nie moontlik deur iemand of 'n maatskappy genader en omkoopgeld aangebied is om die proses te beinvloed nie,'' het Lekota gesê.

Oor bewerings van ongerymdhede met die toekenning van kontrakte aan subkontrakteurs, het Lekota gesê dit is in die hande van die maatskappye wat die bod wen. Suid-Afrika kan nie aan multinasionale maatskappye voorskryf aan wie hulle moet subkontrakteer nie, het hy gesê.

Toe hy as minister van verdediging aangestel is, was die verkrygingsproses reeds ver gevorderd. Daar was toe reeds bewerings van ongerymdhede en hy het alles in sy vermoë gedoen om dit te deurgrond, het Lekota gesê. Op die ou end kan vervolging egter nie plaasvind as iemand nie na vore kom om oor omkopery te getuig of as bewyse gevind word nie.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.