Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-05-26 Reporter: Anesca Smith

Skoor Sit in Junie oor Wapensage

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-05-26

Reporter

Anesca Smith

Web Link

www.naspers.com

 

Die parlement se waghond oor staatsbestuur gaan op 4 Junie bewerings bespreek dat ``belangrike'' inligting weggelaat is uit die verslag oor die wapenondersoek voordat dit die parlement bereik het.

Dít is die naweek deur die voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), mnr. Francois Beukman, bevestig.

'n Kaapse sakeman, dr. Richard Young, het verlede week 'n opskudding veroorsaak toe hy gesê het dit lyk of die finale wapenverslag aansienlik geredigeer is voordat die parlement dit onder oë gekry het.

Besonderhede van geskenke wat deur sleutelfigure in die wapenaankopery ontvang is, is glo uitgelaat sowel as inligting oor ``onwaarhede'' wat deur verdedigingsamptenare aan Skoor voorgelê is oor die transaksie.

Die wapenondersoek is onder leiding van die ouditeur-generaal, mnr. Shauket Fakie, en in samewerking met die openbare beskermer en die nasionale direktoraat van vervolging gedoen. Fakie gaan waarskynlik ook die Skoor-vergadering op 4 Junie bywoon.

Beukman het gesê die bespreking sal gegrond wees op wat deur Young in die media geopper is.

'n DA-LP, mnr. Brian Bell, het gevra dat Skoor die aangeleentheid op sy agenda plaas. Volgens hom blyk dit uit berigte die parlement is mislei om te glo dat geen gewigtige wysigings aan die verslag aangebring is nie.

``Dit is Skoor se plig om dié bewerings te ondersoek,'' het Bell gesê.

Barnie Louw berig die leier van die DA, mnr. Tony Leon, het gewaarsku dat pres. Thabo Mbeki, soos mnr. John Vorster in 1978 uit die Inligtingskandaal moet leer dat die waarheid altyd seëvier.

``Wat verrassend is van die ontvouing van die (wapenaankoop-) skandaal, is die manier waarop die president uit die vaarwater bly,'' het Leon in die party se weeklikse nuusbrief SA Today geskryf.

Die verslag oor die ondersoek na die wapentransaksie is in November 2001 in die parlement ter tafel gelê. Volgens Leon was dit juis Mbeki se ingryping in Januarie 2001 wat tot die huidige stand van sake bygedra het. Mbeki het destyds versoeke vir 'n ondersoek na die wapentransaksie bestempel as 'n vloed van ongegronde aantygings.

Mbeki het verder gesê sulke versoeke is deel van 'n volgehoue poging om die regering te dwing om onwettige dinge te doen (soos kontrakbreuk te pleeg) en om die regering en die land af te kraak.

Leon het gesê Mbeki se aanval was nie in die nasionale belang nie, maar om die regering se aansien te beskerm.

Met Erkenning aan Anesca Smith en Die Burger.