Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-01-20 Reporter: Philda Essop

Staatskontrak : Omstrede Sakeman Lei Konsortium

 

Publication  Die Burger
Date 2003-01-20

Reporter

Philda Essop

Web Link

www.naspers.com

 

Shaikh aan stuur van kaart-rybewyse DA sê sperdatum moet ses maande uitgestel word oor `chaos'

Mnr. Shabir Shaikh, omstrede sakeman wie se naam in die wapentransaksie-ondersoek opgeduik het, is in beheer van die proses om kaart-rybewyse voor die spertyd op 28 Februarie aan nog sowat 'n miljoen Suid-Afrikaners uit te reik.

Shaikh is voorsitter van die konsortium Prodiba wat in 1998 die kontrak vir die vervaardiging van die rybewyse van die regering ontvang het.

Die kontrak is aan drie maatskappye, Face Technologies, Kobitech en Thomson CSF Holdings, toegeken. Elk van die maatskappye het 'n 33,33%-aandeel in die konsortium.

Die direksie het Shaikh, wat 'n direkteur van Thomson CSF Holdings is, destyds as die voorsitter aangewys.

Shaikh se naam en dié van sy broer, Chippy, het in die land se omstrede wapentransaksie opgeduik. Bewerings van nepotisme is oor mnr. Chippy Shaikh, die regering se hoofwapenaanskaffer, gemaak weens sy broer se direkteurskap in Thomson CSF Holdings. Thomson is 'n Franse maatskappy wat gekies is om toerusting vir die vloot se korvette te verskaf. Sowat R400 miljoen is by dié kontrak betrokke.

Shaikh, wat deur die Skerpioene ondersoek word, is van diefstal aangekla nadat vertroulike dokumente oor kabinetsvergaderings glo in sy besit gevind is.

Mnr. Werner Koekemoer, projekbestuurder van die kaart-rybewyse in die departement van vervoer, het gister bevestig Shaikh is die voorsitter van Prodiba. ``Die konsortium het reeds 5 miljoen kaarte vir die regering vervaardig. Die departement is be¨ndruk met die diens wat die afgelope vyf jaar gelewer is. Shaikh is net een aandeelhouer in 'n konsortium van drie gelyke maatskappye.''

Die sperdatum vir die kaart-rybewys moet met minstens ses maande uitgestel word, want die omskakelingsproses is besig om in 'n chaotiese warboel te ontaard, het die DA gister gesê.

Mnr. Stuart Farrow, DA-woordvoerder oor vervoer, het in 'n verklaring gesê mnr. Dullah Omar, minister van vervoer, is die Suid-Afrikaanse publiek 'n verskoning verskuldig weens die agterstand in die proses.

Met erkenning aan Philda Essop en Die Burger.