Publication: Beeld Issued: Date: 2000-10-03 Reporter: Christi van der Westhuizen

"Wapentender Nie Korrup Toegeken, Maar Subkontrakteurs Koop Dalk Om"

 

Publication 

Beeld

Date 2000-10-03

Reporter

Christi van der Westhuizen

Web Link

www.news24.co.za

 

Kaapstad. Die openbare beskermer (OB) het tot dusver geen korrupsie teëgekom wat met belastingbetalers se geld gepleeg is in die regering se toekenning van R30 miljard se kontrakte vir militêre toerusting nie.

Só het mnr. Dave Scrooby, senior ondersoeker: militêre aangeleenthede in die OB se kantoor, gister gesê nadat drie nuwe klagte die afgelope maand by die OB se kantoor oor die wapenpakket ingedien is.

Daar is egter glo tekens van omkopery tussen subkontrakteurs om die sekondêre tenders te bekom. Die OB kan niks aan dié gevalle doen nie, want sy magte is beperk tot gevalle waarby private individue en die staat betrokke is, om te verseker dat die staat nie sy mag misbruik nie.

Scrooby ondersoek steeds klagte deur mnr. Douglas Gibson, DP-LP, en deur 'n ander klaer. Twee van die klagte wat die afgelope maand ingedien is, is oor sekondêre tenders en die derde is van 'n werknemer wat afgedank is.

Die ouditeur-generaal het bevind dat daar onreëlmatighede was in die nakoming van tenderprosedures, maar niks is gevind wat dit regverdig om die tenderproses van voor af te laat begin nie, het Scrooby gesê.

Geen bewys is ook tot dusver gekry dat mnr. Joe Modise, voormalige minister van verdediging, en mnr. Chippy Shaik, direkteur van aanskaffing in die verdedigingsekretariaat, hul posisies misbruik het nie.

Die OB hou sedert Mei 1999 die proses dop en het 'n onderhoud met Shaik gevoer, waarna Scrooby tevrede was dat hy nie sy posisie gebruik het om African Defence Systems (ADS) aan te stel as die koördineerder in die aanskaffing van korvette nie.

Shaik se vrou werk vir dié maatskappy en sy broer is 'n direkteur van die maatskappy. Volgens Shaik het hy hom gerekuseer in die gevalle waar ADS oorweeg is.

Scrooby wil egter steeds ondersoek of daar nie onbehoorlike be¨nvloeding was toe Shaik se direktoraat die tenderdokumente voorberei het nie.

Die OB se kantoor sal in November 'n vergadering belê tussen al die spanne wat die wapenpakket ondersoek.

Dit sluit die ondersoekdirektoraat vir ernstige ekonomiese misdaad (Odeem), die polisie en ook moontlik die Heath-ondersoekeenheid en die ouditeur-generaal in.

Met erkenning aan Christi van der Westhuizen en die Beeld.