Wapentransaksie: Verdere Toets vir Inligtingswetgewing |
Publication | Rapport |
Date | 2002-12-15 |
Reporter |
Andries Cornelissen |
Web Link |
Die ouditeur-generaal (OG) en die openbare beskermer (OB) het om verlof tot appèl gevra teen 'n beslissing dat dokumente oor die omstrede wapentransaksie aan 'n uitgevalle tenderaar gegee moet word.
Dit sal 'n verdere toets wees vir wetgewing wat gewone landsburgers toegang gee tot inligting wat hulle nodig het om hul regte te beskerm of op te dwing.
Regter Willie Hartzenberg het vroeër in die Pretoriase hooggeregshof gelas dat onder meer konsepverslae oor die wapenondersoek wat aan die regering gegee is voordat dit gepubliseer is aan dr. Richard Young se maatskappy, CCII Systems van Kaapstad, gegee word.
Young meen daar is aan dié verslae verander.
Hy was aanvanklik 'n voorkeur-tenderaar vir die inligtingsbestuurstelsel van die korvette, maar dit is toegeken aan 'n maatskappy wat bande het met mnr. Shabir Shaik, broer van die hoofwapenaankoper van die weermag, mnr. Chippy Shaik.
Die genoemde staatsinstellings meen ook dat Young te haastig hof toe is en dat hy hulle die geleentheid moes gegee het om eers sy versoek behoorlik te oorweeg.
Hy word ook daarvan beskuldig dat hy die inligting wil hê sodat hy sy skadevergoedingseis van R150 miljoen kan versterk.
Die staatsinstellings vra dat die saak na die appèlhof of die konstitusionele hof verwys word.
Hulle meen vertroulike militêre inligting kan nie aan Young gegee word nie omdat dit moontlik teen die land gebruik kan word.
With acknowledgement to Andries Cornelissen and Rapport.