Wapen-Korrupsie |
Publication | Beeld |
Date | 2003-07-16 |
Web Link |
Ministers Alec Erwin en Essop Pahad praat oortuigend oor die integriteit van die staat se wapenaankope in reaksie op die stroom kritiek oor die indruk van korrupsie om die aankope.
Daar is immers reeds 'n baie senior LP, mnr. Tony Yengeni, skuldig bevind en tronk toe gestuur.
Boonop ondersoek die Skerpioene bewerings van korrupsie teen adjunk-president Jacob Zuma.
Erwin hou vol dat die besluitnemingsproses só deeglik was, met soveel verskillende komitees en onafhanklike raadgewers, dat groot korrupsie prakties onmoontlik sou wees.
Hy gee steeds toe dat individue moontlik valslik kon voorgee dat hulle die proses kon beïnvloed om korrupte voordeel te trek. En hulle sê by implikasie dat selfs Zuma, wat destyds 'n provinsiale LUR was, tronk toe moet gaan as hy "dom" genoeg was om so iets aan te vang.
Sonder konkrete bewyse, moet Erwin se woord aanvaar word. Dit sal ook help as die Skerpioene-ondersoek spoedig tot 'n punt kom. En dat Zuma oop kaarte speel om te oortuig dat hy skoon is.
Met erkenning aan die Beeld.