Publication: Rapport Issued: Date: 2003-03-16 Reporter: Pieter Malan

Wapen-Skandaal Nou Oopgeruk?

 

Publication 

Rapport

Date 2003-03-16

Reporter

Pieter Malan

Web Link

www.naspers.com/cgi/nph-bwcgis/RAPPORT/rapport/alg/storie/

Die pogings van 'n Kaapse wapenverskaffer om vas te stel presies hoe die regering se omstrede wapenkontrakte toegeken is, het die afgelope week 'n hupstoot gekry nadat die ouditeur-generaal ná 'n maande lange stryd ingestem het om dokumente rakende die toekenning van die kontrakte beskikbaar te stel.

Mnr. Shauket Fakie, die ouditeur-generaal, het Woensdag, 'n dag voordat die hooggeregshof in Pretoria sy appèl teen 'n vorige beslissing dat hy wel die dokumente openbaar moet maak sou aanhoor, aangedui dat hy nie meer die saak sal teenstaan nie.

Dit beteken dat bewerings van grootskaalse korrupsie in die toekenning van miljarde rande se wapenkontrakte die laaste paar jaar uiteindelik bygelê kan word.

Op die voorpunt van pogings om die korrupsie in die toekenning van die kontrakte bloot te lê, is die Kaapse ingenieur en sakeman dr. Richard Young", wie se maatskappy C²I² Systems nie geslaag het om 'n kontrak van R150 miljoen in te palm om 'n elektroniese krygsbeheerstelsel aan die vloot te verskaf nie. Young meen al het vlootoffisiere sy maatskappy se stelsel gekies as die beste vir Suid-Afrikaanse toestande, is die proses op korrupte wyse bestuur om te verseker dat die kontrak uiteindelik toegeken is aan die Franse maatskappy Detexis, 'n sustermaatskappy van African Defence Systems, 'n maatskappy waarin mnr. Chippy Shaik 'n aandeel het (sic).

Chippy is die broer van Schabir Shaik, die departement van verdediging se destydse hoof van verkryging (sic).

Sedert die Suid-Afrikaanse regering se besluit dat die stelsel wat deur C²I² Systems verskaf word blykbaar nie goed genoeg is vir die vloot se nuwe korvette nie, het die Amerikaanse vloot bekend gemaak dat C²I²-elektronika gebruik gaan word in sy nuwe vliegdekskip, die George Bush (genoem na die huidige president se pa, wat die jongste Amerikaanse vlootvlieënier in die Tweede Wêreldoorlog was).

Young sê hy en sy regspan formuleer nou voorstelle oor die maklikste manier om die oorhandiging van meer as 800 000 folio's te administreer.

``Ons probeer 'n situasie vermy waarin die ouditeur-generaal, in 'n poging om ons verder te frustreer, 'n volle agt weke wag voordat hy die hele klomp op een slag kom aflewer of dat hy ná agt weke nog uitstel vra.''

Young sê hul voorstel behels dat die dokumente in agt kategorieë ingedeel word om Fakie se kantoor meer tyd te gee om dokumente wat sensitiewe inligting bevat eers deur te gaan.

Young is ook bereid om die meeste van die dokumente openbaar te maak.

``Ons standpunt reg van die begin af is dat dit in die openbare belang is. Die publiek het die reg om te weet waar die wapentransaksie verkeerd geloop het en wie daarvoor verantwoordelik is.''

Young sê onderhandelings met Fakie se kantoor kan lei tot 'n ooreenkoms dat hy hoogs vertroulike inligting in sommige van die dokumente nie openbaar sal maak nie. Young hoop dat die dokumente wat hy in die volgende paar weke van Fakie se kantoor sal ontvang hom in staat sal stel om uiteindelik die staat te dagvaar vir verlies aan inkomste wat hy gely het weens die korrupte toekenning van die wapenkontrakte. Hy het soveel inligting dat hy onmiddellik sal weet as hulle vervalste of gedokterde dokumente aan hom gee.

With acknowledgements to Pieter Malan and Rapport.