Wapenskandaal Verdiep Ondersoek - Ouditeurs Beskuldig van Botsing van Belange |
Publication | Rapport |
Date | 2003-05-04 |
Reporter |
Paul Kirk, African Eye News Service |
Web Link |
'n Lid van die Britse aristokrasie en een van die wêreld se grootste ouditeursfirmas word nou by Suid-Afrika se R60 miljard-wapentransaksie betrek.
PricewaterhouseCoopers (PwC) word van 'n botsing van belange beskuldig. PwC het die wapentransaksie namens die regering ondersoek en bevind dat niks daarmee verkeerd was nie.
Nuwe getuienis wat die afgelope week bekend gemaak is deur die Kaapse sakeman dr. Richard Young, een van die uitgevalle tenderaars, dui egter daarop dat PwC in sy ondersoek ook maatskappye ondersoek het met wie hy omvangryke finansiële betrekkinge het. Van die maatskappye was óf professionele kliënte óf is maatskappye waarin direkteure van PwC belange het. Dit kom neer op 'n botsing van belange.
'n Klag is reeds teen die maatskappy ingedien by die Suid-Afrikaanse Raad vir Openbare Rekenmeesters en Ouditeure.
Young beweer dat dié verhoudinge PwC be¨nvloed het om die betrokke maatskappye vry te spreek van korrupsie.
Hy beweer ook dat PwC betrekkinge het met sleutelverdagtes soos Schabit Shaik.
PwC het glo onregstreekse bande met Thales France, die Franse moedermaatskappy van Shaik se African Defence Systems (ADS).
'n Tender van R2,6 miljoen is aan ADS toegeken. Young het sonder sukses vir dieselfde transaksie getender.
Lord Freeman, 'n vennoot van PwC en lid van die Britse hoërhuis, is voorsitter van die direksie van Thales PLC in Brittanje en 'n direkteur van Thales Frankryk.
Die Skerpioene het intussen 'n dagvaarding uitgereik vir die inhegtenisneming van 'n senior werknemer van
Thales Frankryk, Alain Thetard. Dié dagvaarding hou verband met 'n beweerde poging om adj.pres. Jacob Zuma om te koop.
Freeman is ook waarnemende voorsitter van PwC se internasionale Aerospace and Defence Group (ADG), 'n organisasie wat die verdedigingsbedryf raad gee.
Die bewering is dat ADG instansies soos British Aerospace en Advanced Technologies & Engineering (ATE) raad gegee het.
Albei maatskappye is in Brittanje kliënte van PwC. PwC se voorganger, Coopers en Leybrand, was ook die ouditeure van baie van die maatskappye wat met die wapentransaksie verbind word en PwC is self die ouditeure van maatskappye met groot wapenkontrakte.
Onder hulle is ATE met kontrakte van sowat R1,5 miljard en die Atoomenergiekorporasie, wat as Fabritech sake doen en wapenkontrakte van R53,7 miljoen het.
PwC is ook die ouditeure van verskeie Denel-maatskappye met groot belange in die wapentransaksie, soos Kentron (R597,2 miljoen), Eloptro (R105,4 miljoen), Somchem (R297,2 miljoen) en Denel Aviation (R6 miljard). Volgens Young oudit PwC ook die boeke van die Koega-ontwikkelingskorporasie, wat ook by die wapentransaksie baat vind.
PwC het die wapentransaksie namens drie staatsagentskappe ondersoek die nasionale direkteur van openbare vervolging, die openbare beskermer en die ouditeur-generaal. Die ondersoek is deur die regering gelei, maar PwC het die meeste van die werk gedoen en senior personeellede as projekleiers aangewys.
PwC se uitvoerende hoof, Collin Beggs, het in gebreke gebly om vrae oor die kwessie wat aan hom gefaks of per e-pos gestuur is, te beantwoord.
Met erkenning aan Paul Kirk, African Eye News Service en Rapport.