Publication: Rapport Issued: Date: 2003-05-25 Reporter: Pieter Malan

Wapenspook Loop

 

Publication 

Rapport

Date 2003-05-25

Reporter

Pieter Malan

Web Link

www.naspers.com

 

Die skuldigbevinding van mnr. Tony Yengeni en die bra flou verslag van die ouditeur-generaal (OG) oor die wapentransaksie ten bedrae van R60 miljard was toe nie genoeg om die saak af te handel nie.

Ná etlike maande waarin die Skerpioene 'n besonder lae profiel gehandhaaf het in hul ondersoek na moontlike verdere onreëlmatighede in die wapentransaksie en die voorafgaande tenderprosedures ook deur adj.pres. Jacob Zuma het onthullings die afgelope week die hele kwessie weer oopgeruk.

Dit blyk dat belangrike dele uit die OG se konsepverslag aan die parlement weggelaat is nadat dit aan pres. Thabo Mbeki voorgelê is.

Dis slegte nuus vir die demokrasie.

Die OG is 'n onafhanklike grondwetlike waghond wat die verkwisting van staatsgeld moet help keer en aan die parlement alleen verantwoordelik is.

Enige aanduiding dat die uitvoerende gesag hom in sy werk inmeng, doen afbreuk aan sy geloofwaardigheid.

Nog meer onrusbarend is die inhoud van die dele wat weggelaat is. Dit versterk die vermoede dat die onreëlmatighede in die tenderprosedure veel ernstiger was as Yengeni se misstappe.

Reeds is in die parlement aangevoer dat die weglating ten doel gehad het om hoë regeringslui en amptenare te beskerm.

Die regering het nou ervaar dat dit onmoontlik is om ernstige vergrype onder die mat te vee as die publiek eers lont geruik het.

Nóg die parlementêre opposisie nóg mense soos mnr. Richard "Young", die sakeman wie se tender nie geslaag het nie en wat toe die ontbrekende dele van die OG-verslag deur 'n hofbevel bekom het, gaan rus voordat alles op die lappe gekom het.

Daar is net een manier waarop die regering nog met 'n mate van geloofwaardigheid die saak kan hanteer hy moet seker maak dat 'n allesomvattende ondersoek die transaksie tot op die been oopkloof, met groot deursigtigheid en al is die uiteinde daarvan hoe pynlik.

Daarna moet daar genadeloos en sonder aansien des persoons teen moontlike korrupsie opgetree word.

Met erkenning aan Pieter Malan en Rapport.