Zuma Sal Nie Nou Pos Ontruim - President |
Publication | Die Burger |
Date | 2002-12-18 |
Reporter |
Bun Boyens and Adrian Lackay |
Web Link |
Stellenbosch. - Adj.pres. Jacob Zuma sal "soos enige ander persoon" vervolg word as die nasionale vervolgingsgesag bewyse kry dat hy betrokke was by ongerymdhede met die regering se strategiese wapenaankope, het pres. Thabo Mbeki gister gesê.
Mbeki het in sy eerste openbare reaksie oor die kwessie voet by stuk gehou dat Zuma nie sy pos sal ontruim terwyl die Skerpioene besig is om bewerings teen hom te ondersoek nie.
"Die reg moet kans gegun word om sy beloop te neem.
"Daar is 'n geweldige klomp gerugte in omloop in Suid-Afrika," het 'n sigbaar geïrriteerde Mbeki in 'n lewendige woordewisseling met twee Britse joernaliste op 'n mediakonferensie gesê. "As daar bewyse is (teen Zuma), sal ek dit graag self wil sien."
Zuma is eergister as adjunkpresident van die ANC herkies.
Kwelvrae het verlede maand rondom hom ontstaan ná mediaberigte dat hy na bewering omkoopgeld van R500 000 ontvang het om die maatskappy Thompson-CF (nou Thales) te beskerm tydens die regering se ondersoek verlede jaar na korrupsie met sy multimiljardrand-wapenpakket.
Dié bewerings is in hofstukke vervat, wat tans deur die Skerpioene ondersoek word.
Mbeki het gister skerp gereageer toe 'n joernalis van die Britse tydskrif The Economist by hom wou weet of die bewerings oor Zuma Mbeki se uitsprake oor korrupsie weerspreek.
"Wat is die probleem daarmee?" het Mbeki driftig geantwoord. "Julle behoort ons geluk te wens dat die Skerpioene die saak ondersoek. As die Skerpioene besluit daar is 'n saak waarvoor antwoorde gegee moet word, sal hy (Zuma) moet antwoord. Hulle (die Skerpioene) sal tot 'n slotsom kom en ons sal dienooreenkomstig reageer."
With acknowledgements to Bun Boyens, Adrian Lackay and Die Burger.