Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-07-29 Reporter: Willem Jordaan

ANC-Twis Word Al Feller

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-07-29

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.co.za

 

Kaapstad - 'n Twis in die hart van die ANC het gister steeds feller gewoed in nog 'n dag van drama oor die Skerpioene se ondersoek na adj. pres. Jacob Zuma en bewerings dat hy omkoopgeld ontvang het.

In sy eerste openbare uitlating oor die woorde-oorlog wat sedert die naweek woed tussen Zuma en adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van openbare vervolging, het pres. Thabo Mbeki gesê die twis is sorgwekkend, maar onderneem om nie self betrokke te raak nie.

Hy het egter ook gesê die ondersoek teen Zuma deur die Skerpioene, wat onder Ngcuka se gesag val, moet so gou moontlik afgehandel word.

Zuma en Ngcuka het in die openbaar slaags geraak nadat die Sunday Times 'n lys van 35 vrae gepubliseer het waarop die Skerpioene antwoorde van Zuma wil hê.

Zuma beweer die uitlek van die vrae bring die motief vir die ondersoek onder verdenking. Die vervolgingsgesag ontken egter dat hy die vrae laat uitlek het en dat sy motiewe verdag is. Ngcuka meen ook dis 'n politieke smeerveldtog teen hom.

Mbeki het gister in Pretoria onderneem om uit die geskil te bly, berig Jan-Jan Joubert .

Hy het gesê hy kry sy inligting van die minister van justisie (dr. Penuell Maduna), soos die wet vereis. "Ek kan nie oordeel oor die inhoud van die bewerings nie en ek weet nie wie reg is en wie verkeerd nie. As daar oortredings was, moet dit so gou moontlik voor die hof kom. Ek het dr. Maduna genader en gevra dat die kwessie gou opgelos word.

"Die nasionale vervolgingsgesag sal nie die stellings maak wat hy nie glo reg is nie, en dieselfde geld vir mnr. Zuma. Ek wens net die kwessie wil nou klaarkry," het Mbeki gesê.

Maar daar was geen teken dat die twis tussen Zuma en Ngcuka sou gaan lê nie.

Mnr. Sipho Ngwema, Ngcuka se woordvoerder, het gister voet by stuk gehou dat die vervolgingsgesag nie die vrae laat uitlek het nie. "Net twee mense aan ons kant het die vrae gehad - Ngcuka en die hoof van die Skerpioene (adv. Leonard McCarthy). Daarom meen ons die persoon wat die inligting laat uitlek het, moet na vore tree."

Hy het gesê die vrae is aan Zuma se prokureurs gestuur, en die vervolgingsgesag weet wie dit Saterdagmiddag laat uitlek het.

Op die vraag of hy die persoon se naam bekend gaan maak, het Ngwema gesê: "Nie nou al nie."

Zuma hou ook voet by stuk. In KwaZulu-Natal het hy gesê hy weet nie wie die vrae laat uitlek het nie. Hy hou ook daarby dat hy die motiewe vir die ondersoek bevraagteken, berig Dries Liebenberg .

Die Burger het uit 'n betroubare bron verneem dat die vrae Donderdag ter sprake was op 'n vergadering tussen Ngcuka en koerantredakteurs wat op Ngwema se versoek belê is. Ngwema het bevestig dat die ontmoeting versoek is, maar ontken ten sterkste dat die vrae beskikbaar gestel is.

Volgens hom is 'n e-pos aan redakteurs waarin Ngcuka se onafhanklikheid in twyfel getrek en hy persoonlik sleggesê word, bespreek.

Met erkenninge aan Willem Jordaan en Die Burger.