Publication: Beeld Issued: Date: 2003-09-29 Reporter: Willem Jordaan, JanJan Joubert

Zuma en NV se Stryd al 'Bloediger'

 

Publication 

Beeld

Date 2003-09-29

Reporter

Willem Jordaan, Jan-Jan Joubert

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad - Die voortslepende twis tussen die adjunkpresident en die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) het Maandag nog feller gewoed nadat adj.pres. Jacob Zuma en die vervolgingsgesag mekaar wéér kaalvuis gepak het in openbare verklarings.

Die eerste hou het geval toe Zuma in 'n siedende aanval beweer het adv. Bulelani Ngcuka, nasionale direkteur van openbare vervolging, se "georkestreerde smeerveldtog" teen hom betrek nou ook die ANC. Teen Maandagaand het die NV egter teruggeslaan met 'n verklaring waarin hy Zuma uitdaag om sy saak te bewys en 'n lastereis in te stel.

Zuma grond sy verklaring op berigte in City Press oor 'n voorligtingsessie wat Ngcuka vir 'n groep koerantredakteurs gehou het en waar die Skerpioene se ondersoek na Zuma glo bespreek is. Die sessie was "van die rekord af" en kragtens konvensie mag die inligting wat gedeel is nie aangehaal word nie.

Zuma het Maandag sy "skok en kommer" oor die gebeure by die voorligtingsessie uitgespreek en Ngcuka se beweerde stellings as "baie kwaadwillig en veragtelik" bestempel. Volgens Zuma was die sessie "daarop uit om gerugte te versterk en beriggewing te beïnvloed."

Zuma gaan dan voort om die ANC te betrek. "Die vraag bly wat die ware motief was en is agter hierdie ondersoek, wat blykbaar nou die ANC insluit.

"Indien die berigte oor die besprekings (met die redakteurs) korrek is, is dit 'n baie ernstige saak want (Ngcuka) hoef nie die media van sy saak te oortuig nie. Hy moet die hof oortuig."

Die NV het gesê hy is "teleurgesteld" in Zuma se jongste bewerings. Luidens dié verklaring is berigte oor die inhoud van die inligtingsessie nie korrek nie, en bowendien regverdig die strekking van die vergadering geen verdere kommentaar nie omdat dit "van die rekord af" geskied het. Die NV benadruk dat die inligtingsessie nie oneties was nie.

"As mnr. Zuma enige bewyse van misbruik of bybedoelings het, word hy uitgedaag om dit voor te lê aan die regterlike kommissie van ondersoek wat die aangeleentheid ondersoek. As hy verder meen sy karakter is geskend deur enigiets wat die NV of die Skerpioene gedoen of gesê het, word hy uitgedaag om 'n lastereis in te stel."

Mnr. Kgalema Motlanthe, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê Zuma se verklaring is nie met die ANC uitgeklaar nie, maar dit is Zuma as lid van die presidensie se reg om sulke verklarings uit te reik."

"Ons wil nie betrokke raak by die proses nie. Ons is nie deel van die proses nie."

Met erkenning aan Willem Jordaan, Jan-Jan Joubert en die Beeld.