Blouwillemaandag : Politiek so Troebel Soos Geskifte Milk Shaik |
Publication | Beeld |
Date | 2003-08-31 |
Reporter |
Blou Willem |
Web Link |
Sjoe, maar dis vir jou stormagtig in ons ou landjie! Dis kouefronte van alle kante af, woeste wegholbrande, stormwinde daar van Bothaville se kant af, skepe wat vergaan en les bes, die politiek wat so troebel lyk soos 'n geskifte Milk Shaik.
Ja, die gezuma van die bye en die vrot turksvye! 'n Mens kan net hoop dat dit als gou verbywaai dat die lente en die vrederyk op ons kan neerdaal.
My kinders is laas Sondagmiddag hier uit Pretoria weg terug Bloemfontein toe en ry toe in daai woeste Vrystaatse stofstorms in. Die wind was so sterk van voor af dat hulle my drie keer gebel het om te sê hulle is nou in Kroonstad.
Al wat ek weet, is dat ons land se adjunkpresident se beweerde finansiële verknorsing nie rêrig vir my 'n verrassing is nie. Ek het net een vrou en nie soos hy verskeie nie, en ek skuld al klaar duisende!
Nee kyk, dit klink dalk lekker om so baie vroue te hê, maar dan moet jy nie paaiemente betaal vir jou paleise nie en jy moet die dames kan bederf en onderhou soos koning Salomo van ouds.
'n Ander ou wat deesdae uithang en wys as dit by die ekstra vroue kom, is koning Msmaartie van Swaziland wat nou sy elfde bruid uitgesoek het. Die poppie, wat net 17 jaar oud is, het in die proses 'n 5-reeks-BMW en 'n kredietkaart gekry.
Die twee geskenkies het Swaziland laat opskuif van die twaalfde armste land ter wêreld na die tiende armste. Oom Johnny sê die Swazi's moet nou net hoop sy koop nie vir haar nog 'n BMW met die kredietkaart nie, want dan's hulle sweerlik die armste.
Groot Paul sê as hy nog enige hoop gehad het vir die Bokke in die Wêreldbeker, is dit ook nou maan toe met die onthulling van hul nuwe rugbytruitjies.
"Ag nee man, nou probeer ons soos die All Blacks wedstryde wen met help-my-sterk-lyk-hempies met klaar ingeboude muscles, outomatiese ratkaste en knoppe. En om als te kroon word die goed met hulle poefterige kragies nog boonop in Holland gemaak!
"Hoe op aarde ons 'n wedstryd gaan wen met rugbytruie wat deur die Kase gemaak is, weet nugter alleen! Hulle sit so styf dat ons manne eers rustyd onder in die kleedkamer sal kan asemhaal! Ek hoor juis Victor Matfield het 'n rib gekraak toe hulle die truie aangepas het vir die media.
"En dan vra hulle nog vir die ondersteunerstruie 'n volle R1 000! Nee wat man, ons het nie stywe truie nodig nie; ons gaan in elk geval asem ophou oor die Bokke."
Dik Daan is steeds siek maar hy's te bang om dokter toe te gaan. Hy sê sy vrou maak hom een nag halfdrie wakker en sê hy't die radio op kortgolf aan vergeet. Maar toe kom hulle agter dis sy bors wat so suis! Hy sê soos die dokters nou droogmaak, kry jy hom nie eens met 'n nuwe Duitse motor omgekoop om die kwak te gaan spreek nie.
"Kyk net daai ou in Brasilië wat dokter toe is met oorpyn en toe per ongeluk 'n vasektomie gekry het. Blykbaar het hy ingesluimer op pad teater toe en toe hy wakker word vra hy vir die oom langs hom: 'Waa's-ek-Omie?' en toe sny hulle hom op die verkeerde plek in die regte teater.
"My vrou sê nog ewe: 'Hoor, hoor, as 'n man nie wil hoor nie, moet hy maar voel!' Blykbaar het die hospitaal darem vir hom 'n stel oormowwe saamgegee huis toe om sy suidelike dele warm te hou."
Met erkenning aan Blou Willem en die Beeld.