Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-08-06 Reporter: Willem Jordaan

Brandpunt : Harde Houe Sal Nog Val in Zuma-Ngcuka-Twis

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-08-06

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van openbare vervolging, veg nou rug teen die muur vir sy politieke oorlewing.

In die openbare woorde-oorlog tussen hom en adj.pres. Jacob Zuma is eersgenoemde nou vinnig besig om die onderspit te delf.

Dit het alles minder as twee weke gelede begin toe die Sunday Times 'n lys van sowat 35 vrae gepubliseer het waarop die Skerpioene steeds antwoorde van Zuma wil hê. Van die vrae hou verband met bewerings dat hy omkoopgeld in verband met die regering se omstrede wapenkontrak ontvang het, maar ander strek wyer.

Zuma was woedend en het gesê hy het "ernstige probleme" met die manier waarop Ngcuka se nasionale vervolgingsgesag die ondersoek hanteer en het Ngcuka beskuldig van "bymotiewe". Tussen die reëls het die nasionale vervolgingsgesag te kenne gegee dit was eintlik Zuma of iemand na aan hom wat die vrae laat uitlek het.

En sedertdien woed 'n oorlog.

Op kabinetsvlak het dr. Penuell Maduna, minister van justisie, hom by die Skerpioene geskaar en gesê hy is oortuig die elite-ondersoekeenheid het nie die vrae laat uitlek nie. Intussen is die tonge in die ANC behoorlik los oor wat Maduna nou eintlik bedoel het toe hy gesê het hy het in 'n stadium "bewend" na Zuma gegaan om hom te sê dat hy die een of ander tyd vrae van die Skerpioene sal moet beantwoord.

Sommige, veral Zuma-ondersteuners, meen Maduna was besig om die spot te dryf met Zuma se hegte verhouding met Schabir Shaikh: Het Maduna "bewend" bedoel, of dalk liewer "Shaikhing"? Een ding is seker, dié soort sinspelings het al sinoniem met Maduna geword.

Zuma laat op sy beurt die saak nie daar nie en reik 'n verklaring uit waarin Maduna onder skoot kom, omdat hy nie 'n omvattender ondersoek na die oorsprong van die lekkasie gedoen het nie.

Só is die slagordes toe opgestel: Maduna en die nasionale vervolgingsgesag wat in sy portefeulje is, teen Zuma in die naashoogste politieke amp in die land.

Maar Maduna se versigtige ondersteuning is sekerlik skrale troos vir Ngcuka en sy Skerpioene. Pres. Thabo Mbeki het immers pas gepraat oor die feit dat daar slegs een polisiemag in die land kan wees en dat die Skerpioene se rol straks heroorweeg moet word, toe kondig me. Geraldine Fraser-Moleketi, minister van staatsdiens en administrasie, so 'n bestekopname aan.

Die Zuma-geledere word gister toe verder versterk deur mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit, wat hom ook by Mbeki en Fraser-Moleketi geskaar het in die standpunt dat die rol van die Skerpioene straks herdefinieer moet word.

Maar Maduna se ministerie weet deurgaans van geen sout of water nie en hou voet by stuk dat die Skerpioene hul werk "skitterend" doen en dat geen verandering in hul rol of funksie noodsaaklik is nie.

Ondanks Maduna se verklaring van steun, pak die onweerswolke teen Ngcuka verder saam in die hoogste gestoeltes van die ANC.

Só byvoorbeeld het mnr. Kgalema Motlanthe, sekretaris-generaal van die ANC, Ngcuka pas beskuldig van "Hollywood-truuks" in die wyse waarop hy die ondersoek na Zuma bedryf. Ngcuka sal weet dit is net 'n kwessie van tyd voor ander ANC-swaargewigte ook ingespan word om met hom af te reken.

Die geveg het nou duidelik ontaard in die oor-en-weer-uitruiling van onderduimse truuks en houe wat ANC-leiers in al twee kampe skade berokken. In dié konteks is Mbeki, Zuma, Fraser-Moleketi, Nqakula en Motlanthe 'n reuse-oormag waarteen Ngcuka en Maduna moet baklei en alles dui daarop dat dié twee straks die onderspit kan delf.

Terselfdertyd is nóg Maduna nóg Ngcuka onder 'n kalkoen uitgebroei. Hulle sal nie 'n formidabele teenstander soos Mbeki vir 'n openbare geveg uitdaag sonder om hul sake deeglik agtermekaar te hê nie.

Die vraag op talle waarnemers se lippe (binne en buite die ANC) is of Maduna of Ngcuka dít gaan doen en dalk 'n hoër kaart het om te speel as die kabinetslede wat die Skerpioene se angel wil afbreek.

Daarom word daar wyd in die ANC gegis dat nuwe inligting aan die lig kan kom oor die rol van Mbeki in die toekenning van 'n olievervoerkontrak deur die Nigeriese regering aan die South-African Oil Company (SAOC).

Die toekenning van die kontrak is deur Mbeki ondersteun in 'n brief aan pres. Olusegun Obasanjo van Nigerië. Dit sou 'n regering-tot-regering-kontrak wees waarby Suid-Afrika sou baat vind, maar dit het geblyk dat die SAOC nie 'n Suid-Afrikaanse maatskappy is nie, maar 'n filiaal van 'n gelyknamige saak in die Kaaiman-eilande.

Oor dié kontrak is daar nog talle onbeantwoorde vrae en daar is sekerlik van Mbeki se teenstanders wat interessante antwoorde kan bied. Dit is die soort inligting wat na vore kom as diegene wat eens in 'n binnekring was, nou rug teen die muur om politieke oorlewing veg.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.