Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-08-27 Reporter: Willem Jordaan

Brandpunt : Die Politieke Wolwe Lê en Loer vir Jacob Zuma

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-08-27

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Skielik bevind adj.pres. Jacob Zuma hom in die koue en staar 'n moeilike keuse hom in die gesig: Bedank of word deur jou eertydse kamerade polities van kant gemaak.

Die bewerings oor Zuma in die klagstaat teen mnr. Schabir Shaikh, die adjunkpresident se vertroueling, finansiële raadgewer en sakeman, is van só 'n aard dat Zuma nie meer met geloofwaardigheid sy amp as adjunkpresident kan beklee nie.

Luidens die klagstaat het Zuma met "buitensporige uitgawes" tot R37 000 per maand oorbestee en 'n korrupte verhouding met Shaikh gehandhaaf, wat op sy beurt Zuma se weelderige lewenstyl in ruil vir politieke invloed gefinansier het.

Nou is dit ongelukkig so dat Zuma waarskynlik nie die kans sal kry om die bewerings teen hom in 'n hof te verdedig nie, omdat die Skerpioene besluit het om hom nie te vervolg nie. Hopelik is die rede hiervoor wel dat twee sleutelgetuies waarskynlik nie sal getuig nie, en nie weens politieke druk nie.

Die feit is egter dat daar wel prima facie-getuienis teen Zuma is, en dat hy wel vervolg moes word. Op sigself is dít genoeg rede om te bedank, omdat die wolk van strafregtelike vervolging oor sy kop sal bly hang.

Suid-Afrika staan aan die voorpunt van planne vir 'n Afrika-unie en Nepad - al twee programme wat swaar steun op die beginsels van skoon regering. Beginsels waarvan Zuma nie juis die lewende vergestalting is nie.

Tweedens sal dit vir die ANC uit 'n strategiese oogpunt haas ondenkbaar wees om 'n verkiesingsveldtog te voer met Jacob Zuma in sy voorste gestoeltes. In die onwaarskynlike geval dat Zuma tot ná aanstaande jaar se verkiesing oorleef, sal sy doppie sekerlik geklink wees wanneer pres. Thabo Mbeki aanstaande jaar sy adjunk aanwys.

Zuma kan seker wees dat hy nie op Mbeki se steun sal kan reken nie, want die president gaan nie sy eie reputasie op die spel plaas om Zuma s'n te red nie. Trouens, hy het reeds aangedui hy wil nie betrokke raak nie.

Bowendien is die twee indoenas nie juis goeie maats nie, en spanning tussen hulle het al op verskillende maniere na die oppervlak gekom.

Die eerste is die wyse waarop Mbeki stelselmatig Zuma se magte ingekort het, terwyl hy sy eie mag gekonsolideer het. Van al die belangrikste magte wat Mbeki destyds as adjunkpresident geniet het, het Zuma net een. Dít is die voorsitterskap van Suid-Afrika se binasionale kommissies.

Zuma is wel leier van regeringsake in die Nasionale Vergadering gemaak, maar dít is 'n pos wat voorheen deur 'n gewone kabinetslid beklee is. Tesame met die afskaling van die adjunk-presidentskap, het Mbeki die status van dr. Essop Pahad, sy jare lange vertroueling, verhef tot dié van minister in die presidensie. Dié verwikkelinge het Zuma, wat self ambisies vir die presidentskap gehad het, van Mbeki vervreem.

Mbeki en Zuma se verslegtende verhouding het verlede jaar met die afsluiting van die ANC se beleidskonferensie in die openbaar begin oorkook. Zuma het die konferensie met 'n lied en 'n paar passies afgesluit. Toe Mbeki aan die beurt kom, haal hy slegs uit 'n lied aan en sê toe vir Zuma: "Dit beteken nie, adjunkpresident, dat jy dit moet sing nie . . ."

Almal het lekker gelag, maar in ANC-kringe word steeds oor dié voorval gepraat as tekenend van die spanning tussen die twee swaargewigte. En toe Markinor vroeër vanjaar 'n meningspeiling publiseer waarluidens Zuma gewilder as Mbeki is, was dit straks die laaste strooi.

Sonder Mbeki se steun is Zuma in die koue. As hy desondanks besluit om nie te bedank nie en sy stryd moedig voort te sit, sal drie honger wolwe genadeloos op hom losgelaat word.

Die eerste is die strafregtelike vervolging van Shaikh. Uit dié hofsaak sal daar noodwendig nog besonderhede na vore kom oor ongerymdhede en Zuma sal self in die getuiebank moet verskyn om verder in die openbaar verneder te word. Sien hy kans?

Die tweede is die parlement se komitee oor etiek en ledebelang wat antwoorde sal wil hê oor of Zuma die "geskenke" ter waarde van meer as R1 miljoen wat hy van Shaikh ontvang het, verklaar het. Alles dui daarop dat hy nie het nie.

Derdens sal die ANC waarskynlik sy naam in die hitte van 'n verkiesingstryd wil red met streng tugoptrede teen Zuma.

Dit lyk dus of Zuma se kanse goed is om in die openbaar verskeur te word.

Ongeag of Zuma bedank en of sy kamerade hom polities van kant maak, gaan hy sekerlik nie alleen wil ondergaan nie. Wanneer politieke swaargewigte met die rug teen die toue veg vir politieke oorlewing, is party-lojaliteite die eerste ding wat by die venster uitgegooi word. Daarom is die kanse goed dat talle bewerings van ongerymdhede gemaak sal word, en nog hoë name na vore sal kom.

Teen dié agtergrond is dit dringend noodsaaklik dat 'n geregtelike kommissie van ondersoek ingestel word om eens en vir altyd tot die kern van die groeiende wapenskandaal deur te dring.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.