DA Looi ANC oor Cyril 'Inmeng' |
Publication | Beeld |
Date | 2003-08-18 |
Reporter |
Barnie Louw |
Web Link |
Kaapstad. - Mnr. Cyril Ramaphosa se ontmoeting Sondag met adv. Bulelani Ngcuka, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) en die Skerpioene, is "totaal onbehoorlik, parmantig en die mees ontoepaslike politieke inmenging wat ons nog gesien het".
Mnr. Hendrik Schmidt, DA-woordvoerder oor korrupsie, het gesê dié optrede deur die ANC is 'n duidelike poging om in te meng in die onafhanklikheid van die NV en wys hoe desperaat die ANC is om sy eie beeld te red.
Volgens Schmidt het die NV 'n grondwetlike verpligting om totaal onafhanklik te bly van die regerende party. Hy het gevra dat pres. Thabo Mbeki ingryp om die onafhanklikheid van die NV te verseker.
In haar reaksie het adv. Carol Johnson, NNP-woordvoerder oor justisie, gesê Ramaphosa se betrokkenheid is ongevraag en sal lei tot aantygings van politieke inmengery in die ondersoek. Die Skerpioene moet toegelaat word om die ondersoek ongehinderd te voltooi.
" 'n Bemiddelingsproses wat agter geslote deure plaasvind, sal die beginsels van onafhanklikheid en onpartydigheid ondermyn en 'n skikking wat só bereik word, sal uiteindelik daartoe lei dat die geloofwaardigheid en legitimiteit van die ondersoek betwyfel word."
Met erkenning aan Barnie Louw en die Beeld.