Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-08-19 Reporter: Hermann Giliomeel

Openbare Vervolger Moet Onafhanklik Wees

 

Publication 

Die Burger
Kommentaar

Date 2003-08-19

Reporter

Hermann Giliomeel

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

'n ANC-leier wie se naam nie genoem is nie, het onlangs verduidelik waarom daar soveel druk in ANC-kringe is op Bulelani Ngcuka, die openbare vervolger, wie se ondersoek oor aantygings van korrupsie teen adj.pres. Jacob Zuma nou tot 'n punt kom.

Die leier het verklaar: "Ons word almal deur die ANC ontplooi en daar is geskrewe en ongeskrewe reëls. Ngcuka het die ongeskrewe reël oortree deur nie met sy ANC-kamerade oorleg te pleeg voordat hy teen Zuma opgetree het nie."

Die ondersoek na Zuma in die besonder en korrupsie in die wapenaankope duur al drie jaar en dit lyk of die ANC-leiers eers ontevrede met Ngcuka begin raak het toe dit lyk of Zuma tereg sal moet staan. Nog meer ontstellend as die betrokke ongeskrewe reël, is die houding dat waar die ANC almal "ontplooi", die hoogste gesag nie die Grondwet is nie, maar die ANC-leierskap. As dit die geval is, kan Suid-Afrika maar vergeet om 'n liberale demokrasie te word.

Die grondreël vir 'n demokrasie is 'n duidelike skeiding tussen die uitvoerende en regterlike gesag en tussen die regerende party en die staatsdiens. En veral die onafhanklikheid van die vervolgingsgesag moet bo alle verdenking wees.

Soos dit dikwels deesdae gaan, is joernaliste wat die regering besonder goedgesind is, gou om die huidige bewind, ten spyte van al sy gebreke, gunstig te vergelyk met die vorige bewind sonder om juis bewyse of argumente op die tafel te plaas.

Vergelykings is geneig om gou te begin stink en in hierdie betrokke geval is dit wys om nie te gou te oordeel nie. Die minste korrupsie die afgelope 55 jaar was waarskynlik in die eerste 20 jaar van die NP-bewind toe apartheid op sy hoogtepunt was. Die tuislande was nog nie daar nie, Afrikaner-staatsamptenare het in die legitimiteit van die staat en die NP-beleid geglo, en veral die Engelse pers het die regering met arendsoë dopgehou. Korrupsie het begin intree nadat apartheid as ideologie en beleid begin verkrummel en 'n strewe na materiële gewin sterk begin toeneem het.

Tog was die stelsel in die meeste staatsdepartemente goed genoeg om korrupsie sterk aan bande te lê. Die vervolgingsgesag het al hoe meer onafhanklik geword en dit het sy hoogtepunt onder Kobie Coetsee as minister van justisie bereik.

Die prokureurs-generaal van die ou bewind het geglo hulle het hul werk ten spyte van die apartheidsbestel professioneel gedoen en was sonder uitsondering bereid om voor die Waarheidskommissie te verskyn om hul optrede te verduidelik.

Vir my as waarnemer lyk dit of korrupsie deur die staat in die huidige bestel veel groter as in die vorige bestel is. Maar dit is nie die hele storie nie. 'n Duidelike onderskeid moet tussen persoonlike en politieke korrupsie getref word, en dan moet die kwessie van ministeriële verantwoordelikheid ook ingegooi word. Dirkie Uys het bedank vanweë die Agliotti-skandaal oor die verkoop van staatsgrond, hoewel daar geen aanduiding was dat hy voordeel daaruit getrek het nie.

Die bedanking van Pietie du Plessis, wat daarna vervolg is en tronkstraf gekry het, hou verband met persoonlike korrupsie.

Die hoogtepunt van politieke korrupsie was die inligtingskandaal van die middel 1970's. En hier bestaan daar nogal parallelle tussen die ou en nuwe bewind. In albei gevalle was die kroonprins (Connie Mulder en Zuma) se politieke lewe op die spel.

Ook in die geval van die projekte van Mulder se departement van inligting, onder meer die onwettige finansiering van The Citizen met staatsgeld, was daar 'n ongeskrewe reël waarmee Mulder, die eerste minister John Vorster en die minister van finansies Nic Diederichs blykbaar akkoord gegaan het: "Wanneer dit kom by oorlewing, geld geen reëls nie."

Natuurlik is geen onderskeid getref tussen die oorlewing van die staat, die regering en die NP nie. In albei gevalle is daar sprake van 'n vervolgingskompleks. Tans praat die ANC se sekretaris-generaal, Kgalema Motlanthe, van "sinistere magte" wat Ngcuka se vervolging dryf. So was Vorster en sy manne ook oortuig dat die internasionale veldtog deur soortgelyke magte gedryf is.

In albei gevalle sou die hele kwessie waarskynlik nooit op die lappe gekom het as die pers dit nie volhardend ondersoek het nie en daar nie 'n opvolgstryd was nie. Met Vorster dodelik deur die skandaal gekwes, was daar 'n felle opvolgstryd tussen Mulder en P.W. Botha. Dit was in belang van die Botha-faksie om net genoeg inligting openbaar te laat word om Mulder finaal te kelder.

Wat betref politieke korrupsie, het die ou bewind geen rede om homself op die rug te klop nie.

Volgens goeie bronne hou Mbeki en sy beleërde adjunk, wat nog die beste kans het om hom op te volg, nie bra van mekaar nie. Maar die vraag is of Mbeki die politieke "beginsel" van die ANC-leiers se onaantasbaarheid sal opoffer vir die abstrakte beginsel van die skeiding van magte en die skeiding van regerende party en staat.

Met erkenning aan Hermann Giliomeel en Die Burger.