Doodsklok Kan Lui Vir Omstrede Skerpioene |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-05 |
Author |
Jan-Jan Joubert, Willem Jordaan |
Web Link |
Pretoria - Daar gaan eersdaags omvattend bestek opgeneem word van die elite-ondersoekeenheid die Skerpioene, wat die doodsklok vir dié omstrede eenheid kan lui.
Die meningsverskil in die kabinet oor die rol van die Skerpioene duur klaarblyklik voort, met dr. Penuell Maduna, minister van justisie, onder wie die Skerpioene ressorteer, wat gister onbewus was van dié bestek toe dit deur 'n kabinetskollega aangekondig is.
Mev. Geraldine Fraser-Moleketi, minister vir die staatsdiens en administrasie, het die opname gister op 'n voorligtingsessie oor die pas afgelope kabinetsberaad bekend gemaak.
Sy het dit as 'n roetine-ondersoek bestempel, en het gesê só 'n opname is normaal, want die eenheid bestaan reeds byna vyf jaar.
Die Burger het uit regeringsbronne verneem daar is 'n sterk gevoel, onder meer onder sekere kabinetslede, dat die Skerpioene ontbind kan word, en dat dít 'n sterk moontlikheid is, hoewel die opname die prentjie kan verander en geen bindende besluit nog geneem is nie.
'n Hooggeplaaste het gesê die beeld van die polisie was met die stigting van die Skerpioene (in 1999) baie swak en die regering moes iets sigbaars doen om misdaad te takel.
"Die beeld van die polisie is nou veel beter. Die ander rede vir die stigting van die Skerpioene, en veral vir die insluit van aanklaers in dié eenheid, was dat sake vinniger afgehandel sou kon word. Verskeie sake sloer steeds. Die huidige onstuimigheid om adj.pres. Jacob Zuma het niks met die bestekopname te make nie - dit sou in elk geval plaasvind."
Fraser-Moleketi het met die voorligtingsessie pertinent gesê geen verband bestaan tussen die opname en die omstredenheid oor die Skerpioene nie. Sy het gesê die regering het 'n gevoel dat daar kompleksiteite en verdubbeling is, en ondersoek dit.
Terselfdertyd het die ministerie van justisie, wat vir die Skerpioene verantwoordelik is, sy volle vertroue in die eenheid uitgespreek.
Mnr. Paul Setsetse, woordvoerder, het gesê Fraser-Moleketi het Maduna nog nie oor die kwessie genader nie en dat hy nie kan reageer voordat dit gebeur nie.
Setsetse het desondanks benadruk dat Maduna "heeltemal tevrede" is met die manier waarop die Skerpioene sy werk doen en hoe die eenheid werk.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Willem Jordaan en Die Burger.