Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-06-02 Reporter: Dawie

Versigtige Duisendpoot Moet Bly Voortbeweeg

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-06-02

Reporter

Dawie

 

Om verskillende redes het nugterheid gister geheers toe die parlement besluit het om die verslag te aanvaar van sy staande komitee oor etiek en ledebelange, wat verlede week die minister van verdediging, mnr. Mosiuoa Lekota, met 'n week se salaris beboet het omdat hy nie sy belange verklaar het in twee Vrystaatse maatskappye waaruit hy moontlik geldelike voordeel getrek het nie.

Die aanvaarding van die verslag en die vinnige wyse van optrede teen 'n kabinetslid dui op 'n groei na volwassenheid by lede van die regerende ANC. Lekota het gister die wyse waarop hy in die parlement berispe is, waardig aanvaar. En dit behoort stemme van kommer oor die party se onmiddellike verlede waarin sy belange talle kere verhef is bo dié van die land en die demokrasie, vir 'n wyle tot stilswye te dwing.

N.P. van Wyk Louw het in Weegskaal die aard van die politiek nogal raakgevat toe hy geskryf het die "amptelike politiek is tog 'n versigtige duisendpoot wat elkeen van die duisend aparte pote se vorentoe-trap moet oorweeg". Die afgelope klompie jaar het die kieserspubliek dikwels die indruk gekry dat die ANC se duisendpoot 'n logge dier is wat baie stadig beweeg as teen sy eie lede(mate) opgetree moes word.

Lekota is die vierde geval waarin die staande komitee oor etiek en ledebelange 'n besluit moes neem oor optrede teen een van die ANC se parlementslede. En voor die Lekota-geval aangehoor is, het die party nie juis 'n verlede van snelle en ferme optrede gehad nie. Dit was eerder 'n verlede wat gespreek het van 'n party wat aan die een kant Afrika wil ophef deur die Nepad-program van meetbare prestasiebeoordeling, maar aan die ander kant sy voete sleep wanneer sy eie lede Nepad se ideale van verantwoordbaarheid minag.

Die optrede teen ander ANC-lede wat moes verantwoording doen voor die etiekkomitee, was 'n jammerlike vertoning van onbeholpenheid en traagheid om partylede wat etiese reëls van die parlement oortree, tot orde te roep.

Mev. Winnie Madikizela-Mandela, wat ook nie moontlike finansiële voordele aan die komitee verklaar het nie, het die aanklagte teen haar met minagting behandel en eers bedank toe 'n hof haar aan bedrog skuldig bevind het; mnr. Tony Yengeni, eens hoofsweep van die ANC, het dieselfde pad gevolg en eers die parlement verlaat toe hy weens sy betrokkenheid by die wapenskandaal in die hof skuldig bevind en gevonnis is. Me. Lindiwe Hendricks, adjunkminister van handel en nywerheid, is net berispe omdat sy nie haar belange in die visbedryf verstrek het nie.

In die lig van hierdie bedenklike agtergrond dui die optrede teen Lekota op 'n kentering in die denke en benadering van die regerende party. Madikizela-Mandela en Yengeni het maande lank kat en muis met die komitee gespeel en 'n siniese publiek sou nie kwalik geneem kon word as hy sou dink dat die ANC met twee verskillende maatstawwe gemeet het wanneer dit by oortredings van parlementslede gekom het nie.

Die spektakel rondom Yengeni en die totaal ander wyse waarop Lekota opgetree het toe sy, kom ons noem dit maar "oorsig", op die lappe gekom het, hou tog sekere lesse in vir politici van alle kante.

Ten eerste beskik Suid-Afrika oor 'n vrye pers wat ongerymdhede deur openbare amptenare, ook politici, in belang van die belastingbetaler ondersoek en na die markplein bring waar dit openbaar gemaak word. Dit het talle politici - ook van die opposisiepartye soos die Marais- en Morkel-sage bewys - al tot hul spyt moes besef.

Tweedens het Lekota nie die pad van ontkenning gestap wat Yengeni en Madikizela-Mandela verkies het om te volg nie. Goed, hy het nie sy belange verklaar in die maatskappye soos deur die parlement van sy lede vereis word nie en is deur 'n waaksame pers betrap. Maar daarna het hy oop kaarte gespeel en vinnig ook. Hy was verder ook bereid om hom aan die tug van die parlement te onderwerp.

As 'n mens met die Middeleeuse allegoriespele in gedagte na die Madikizela-Mandela-, Yengeni- en Lekota-geval kyk, kan die volgende duidelike moraliteitsles uit die spel geleer word:

Wanneer politici en bestuurslui in die openbare en private sektor - en ook aan universiteite, as 'n mens die onbeholpe kommunikasie en ondeursigtigheid van die Universiteit van Stellenbosch oor die Majuba-aanrandings in gedagte hou - foute begaan, moet die slegte nuus so volledig en so deursigtig moontlik aangekondig word. Daar moenie doekies omgedraai word nie.

En wanneer 'n saak ondersoek word, is deursigtigheid en snelle optrede van die allergrootste belang. In hierdie opsig het die staande komitee oor etiek en ledebelange al 'n ent gevorder. Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) kan gerus 'n blaadjie neem uit sy medekomitee se boek.

Die duisendpotige versigtigheid moet dikwels liewer met groter haas gepaard gaan. Statiese onbeholpenheid deug nie.

Met erkenning aan Dawie en Die Burger.