Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-06-06 Reporter:

'n Egte Demokratiese Kultuur Moet Nou Posvat

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-06-06

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Oor die Zuma-debakel is vandeesweek baie geskryf en gesê, maar as daar een uitspraak is wat onmiddellik die kern van die saak aangeraak het, was dit dié van die hoof van die regering se kommunikasiediens, mnr. Joel Netshitenzhe.

In 'n poging om te verduidelik waarom pres. Thabo Mbeki en die ANC nie optree teen adj.pres. Jacob Zuma na aanleiding van die bewerings oor korrupsie nie, het Netshitenzhe gesê: Dis 'n kwessie van "kultuur en vertroue."

As die regering toelaat dat 'n presedent geskep word, dat senior leiers na aanleiding van bewerings bedank, sal dit die regering se vermoë om te funksioneer aantas. Bowendien, het hy bygevoeg, moet Zuma op sy woord geneem word.

Dit is inderdaad die kern van die saak, maar dalk op 'n ander manier as wat Netshitenzhe bedoel het. Want die kultuur waarvan hy gepraat het, is juis foutief, en Zuma se woord is nie voldoende nie.

Die afgelope week kon byna geen groter kontras opgelewer het tussen die diep wortels van die Britse demokrasie en die vlakkes van dié in Suid-Afrika nie. En dit ondanks die feit dat die demokratiese gehalte van die Suid-Afrikaanse Grondwet in teorie veel beter as die Britte s'n is.

Toe die Britse wetenskaplike raadgewer dr. David Kelly selfmoord gepleeg het nadat hy as bron van 'n negatiewe berig oor die regering se hantering rakende Irak se massavernietigingswapens geïdentifiseer is, het die premier, mnr. Tony Blair, onmiddellik 'n onafhanklike regterlike kommissie van ondersoek aangestel. En dit nogal onder leiding van lord Hutton, een van die land se voorste regslords.

Vandeesweek het die Hutton-kommissie in die openbaar verskeie getuies oor die saak aangehoor, en Blair moes self opdraf om sy sê te sê. En wat hy gesê het, het wye dekking en bespreking in die media en onder kenners ontlok.

Die ondersoek is belangriker as wat dit so op die oog af lyk. Ofskoon die onmiddellike aanleiding die omstandighede van Kelly se selfmoord is, gaan dit eintlik oor die vraag of die Blair-regering Irak se militêre vermoëns doelbewus oordryf het om 'n rede vir die inval te vind.

Dit gaan ten diepste oor Blair en sy kabinet se geloofwaardigheid. En as hy sleg uit die ondersoek kom, het Blair eergister self te kenne gegee, sal hy as premier bedank.

Daar was geen sprake van dat hy een van sy luitenante laat sê het dat dit oor kultuur en vertroue gaan, en dat Blair op sy woord geneem moet word nie. Nee, dis nie soos sake in 'n diep gewortelde demokrasie soos dié in Brittanje werk nie.

Dis ook nie soos dit in Suid-Afrika behoort te werk nie.

Dis nodig om die verskillende drade van die affêre behoorlik uitmekaar te hou. Kyk na die volgende aspekte: Taamlik gou ná die toekenning van die verskillende wapenkontrakte in 1998 het gerugte oor suurlemoensap wat deurgeloop het die ronde begin doen. Eers aarselend, daarna al hoe sterker. Van die name wat voortdurend teruggekeer het, was dié van wyle min. Joe Modise, die Shaikh-broers (Chippy, wat as amptenaar regstreeks met die saak gewerk het) en Schabir, aan wie se onderneming sekere van die kontrakte toegeken is), asook Zuma self.

Alle pogings om die saak omvattend en onafhanklik te ondersoek, van oudregter Willem Heath se eenheid tot die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement, het gestuit op die ANC se onwilligheid. Dis telkens opnuut toegesmeer.

Dié onwilligheid om korrupsie deursigtig en in die openbaar te beveg, het al tevore geblyk. Dink maar aan die wyse waarop die destydse adj.pres. Thabo Mbeki se regsadviseur, adv. Mojanku Gumbi, dr. Allan Boesak onskuldig bevind het aan diefstal toe dié ambassadeur by die Wêreldbank sou word. En waar sit Boesak vandag? In die amptelike klagstaat teen Schabir Shaikh word ernstige bewerings teen Zuma gedoen, wat saamgevat daarop neerkom dat hy in 'n "korrupte verhouding" met Schabir Shaikh betrokke was.

Netshitenzhe het dus reg. Dit gaan inderdaad om 'n kultuur, maar 'n uiters ongesonde kultuur.

En dit gaan ook om geloofwaardigheid, iets wat die regerende ANC in dié opsig op die oomblik nie het nie. Wanneer die party se woordvoerder, mnr. Smuts Ngonyama, dus pertinent ontken dat die ANC, soos in die klagstaat gesê word, 10% van die aandele in Shaikh se maatskappy het, sou 'n mens naïef wees as jy dit onmiddellik glo. Sien is glo.

Dis tyd vir 'n nuwe kultuur in Suid-Afrika, 'n eg demokratiese een. Een waar politieke oorwegings nie die deurslag gee in die vraag of mense vervolg moet word of nie. Een waar bewerings oor oneerlikheid en korrupsie selfs teen regeringsleiers nie afgemaak word nie, maar op 'n deursigtige, geloofwaardige en omvattende manier ondersoek word.

Suid-Afrikaners verwag dit van hul regering en verdien beter.

Met erkenning aan Die Burger.