Firma Is Agent |
Publication | Beeld |
Date | 2003-07-01 |
Reporter |
Erika Gibson |
Web Link |
Die naam van BAE Systems se agent in Suid-Afrika ten tyde van die multimiljardrand se Hawk-vegopleidingsvliegtuigtransaksie is onthul as Osprey Aviation, 'n lugvaartspesialismaatskappy in Johannesburg.
Mnr. Phil Soucy, woordvoerder van BAE Systems, het Dinsdagaand uit Londen gesê sy maatskappy het besluit om ter wille van deursigtigheid en perspektief die naam bekend te maak, nadat "wilde gerugte" oor miljarde rande se kommissie die afgelope twee dae die ronde gedoen het.
Volgens Soucy is dié gerugte oor die omvang van die kommissie "absurd". Die betaling van Osprey Aviation is op professionele skale geskoei en "heeltemal aanvaarbaar". Mnr. Richard Charter is die hoof van Osprey.
Die Britse parlement het vandeesweek die betaling van die kommissie deur BAE Systems in die Hawk-vegopleidingsvliegtuigtransaksie bevestig, maar nie die bedrag nie.
Volgens Soucy het sy maatskappy Charter gekontrakteer om van 1994 op te tree as sy kommersiële raadgewer. Voor dít was daar reeds bande tussen die twee maatskappye deurdat Osprey gehelp het met die bemarking van BAE Systems se private stralers.
"In die aanloop tot die wapenonderhandelings wou ons 'n plaaslike vennoot kontrakteer om ons te help om Suid-Afrikaanse prosedures oor tenders en aanskaffing te verstaan.
"Voor 1994 was BAE Systems nié in Suid-Afrika betrokke nie weens die wapen-embargo. Ons het 'n vennoot gesoek met geen regerings- of militêre bande nie.
"Dit is ons gebruik om só te werk te gaan om 'n agtenswaardige agent aan te stel wanneer ons in 'n onbekende land 'n nuwe mark wil ontgin."
Volgens Soucy het Charter selfs BAE Systems gehelp om kantoorruimte te bekom. "Ons het deurentyd die Britse en die Suid-Afrikaanse owerheid in kennis gestel dat Osprey ons vennoot is. Niemand het enige besware daarteen geopper nie."
Volgens hom is Charter tans 'n rustende vennoot, aangesien die grootste gedeelte van die aanknoping- en onderhandelingswerk afgehandel is.
"Osprey sal egter aanhou om kommissie te ontvang totdat die laaste vliegtuig (teen 2007) gelewer is - ingeval ons sy dienste nodig het.
"BAE Systems staan by sy belofte dat hy by geen onderduimshede of onreëlmatighede met die Hawk-kontrak betrokke was nie en verwerp enige bewerings in dié verband met minagting."
Charter het Dinsdagaand gesê hy is sedert 1976 by BAE Systems betrokke, asook by die ontwikkeling en vervaardiging van valskerms vir die weermag.
Volgens hom het Osprey Aviationgeen swart bemagtigingsvennote nie en is daar slegs vier werknemers by die maatskappy betrokke.
Die ANC het Dinsdag ontken dat hy enige kommissie van BAE Systems of enige ander maatskappy betrokke by die wapentransaksies, gekry het.
Met erkenning aan Erika Gibson en die Beeld.