Haider-Vertrouelinge Kan Val Oor Wapens |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-25 |
Reporter |
Hendrik Schott |
Web Link |
Twee jaar gelede is hier in talle artikels oor bewerings van korrupsie in verband met Suid-Afrika se omstrede wapenaankope van R43 miljard berig. 'n Belangrike wapentransaksie waarby opnuut die European Aeronautic Defence and Space Company (Eads) betrokke is, kan nou moontlik die suksesvolle politieke loopbaan van die Oostenrykse minister van finansies beëindig.
Ook in die geval van mnr. Karl-Heinz Grasser (34), Oostenryk se jongste minister tot nog toe, speel 'n vermoede van omkopery en Eads weer 'n belangrike rol. Eads het deur die samesmelting van 'n Spaanse en 'n Franse bedryf met die Duitse DaimlerChrysler Aerospace (Dasa) ontstaan. DaimlerChrysler besit sowat 30% van Eads se aandele. Dogtermaatskappye van Eads was ook by Suid-Afrika se wapentransaksie betrokke.
Maar hoe het dié Alpynse verhaal nou eintlik begin? 'n Biografiese skets van die ambisieuse politikus Grasser verklaar waarom wapenaankope dikwels met beskuldigings van omkopery gepaardgaan.
Karl-Heinz Grasser, oftewel KHG, se lewe is tot dusver deur 'n opeenvolging van suksesse gekenmerk. Ná 'n uitstekende matrikulasie in Klagenfurt, hoofstad van die Oostenrykse deelstaat Karintië, het hy sy studie in bedryfsekonomie uiters vinnig en met lof voltooi. Op die ouderdom van 23 word KHG lid van die regs-populistiese FPÖ van die omstrede politikus Jörg Haider, destyds premier van die deelstaat Karintië.
As Haider se vertroueling is Grasser se vooruitgang in die politiek nie meer te stuit nie. Hy word eers persoonlike medewerker van Haider, vervolgens sekretaris-generaal van die FPÖ en uiteindelik waarnemer van sy baas as provinsiale premier.
In 1998 ontstaan egter 'n magstryd met Haider omdat KHG self Landeshauptmann (provinsiale premier) wil word. Omdat Grasser sy kragte oorskat het, misluk dié poging. KHG vertrek daarom na die sakewêreld en word hoof van die kommunikasie-afdeling van die nywerheidsreus Magna (75 000 medewerkers wêreldwyd). Twee jaar later het hy en Haider die strydbyl neergelê. Grasser mag vir die FPÖ minister van finansies word in die swart-blou koalisieregering onder leiding van die bondskanselier, Schüssel.
"Ondank is wêreldsloon," sal Haider waarskynlik gesug het toe Grasser in 2002 sy lidmaatskap van die FPÖ opsê om 'n vertroueling van Schüssel te word. As minister van finansies sonder partylidmaatskap wat die vertroue van die regeringsleier geniet, mog KHG sy loopbaan as gewilde politikus voortsit.
Enkele weke gelede het verskeie feite egter aan die lig gekom wat Grasser tot 'n val kan bring. So het dit byvoorbeeld bekend geword dat 'n Oostenrykse werkgewersvereniging sowat 175 000 euro betaal het vir die ontwerp van sy persoonlike webwerf. Aangesien dié bedrag veels te hoog is, word in Wene vermoed dat hier sprake is van 'n versluierde vorm van partyfinansiering.
Dié vermoede word versterk omdat die geld nie regstreeks aan KHG betaal is nie, maar aan 'n "vereniging vir die bevordering van die nuwe ekonomie". Dié vereniging, wat deur Grasser se medewerkers van die ministerie van finansies bestuur is, het tot dusver nooit belasting betaal nie. Die opposisie praat dus van korrupsie en belastingontduiking. Later is ontdek dat Grasser geld, bedrae tussen 7 000 euro en 14 000 euro, vir lesings ontvang het.
'n Oostenrykse minister mag egter naas sy amp geen ander betaalde beroep beoefen nie. KHG beweer intussen dat hy dié geld vir 'n liefdadigheidsfonds verdien het wat dit later aan hulpbehoewendes sal uitkeer.
Die opposisie betwyfel dit en verwyt hom buitendien sy talle reise na die buiteland, sy voorliefde vir duur onthale, asook sy buitensporige uitgawes vir skakelwerk vir hom en sy ministerie wat hy aan vriende bestee het.
Die opskudding oor Grasser het inmiddels 'n voorlopige hoogtepunt bereik toe dit bekend geword het dat hy van sy voormalige werkgewer die waarborg gekry het dat hy ná sy tyd as minister na die nywerheidsreus Magna mag terugkeer. Die eienaar van Magna is mnr. Frank Stronach, wat uit 'n grootskaalse wapentransaksie voordeel sal trek.
Grasser was oorspronklik hewig gekant teen die aankoop van 18 duur vegvliegtuie, maar net soos in Suid-Afrika het die regering beweer dat die wapentransaksie deur bestellings by Oostenrykse bedrywe gekompenseer en gefinansier sou word. Met Grasser se goedkeuring is die wapenbestelling uiteindelik by Eads geplaas.
Dit is nog onduidelik wat die minister plotseling van mening laat verander het, maar dit is 'n feit dat sy voormalige werkgewer baie voordeel sal trek uit die wapentransaksie omdat Stronach se firma die belangrikste leweransier van DaimlerChrysler in Oostenryk is. Sekere ooreenkomste met Suid-Afrika se wapentransaksie is uiteraard toevallig, maar reeds in die Bybel staan immers daar is "niks nuuts onder die son nie".
Hendrik Schott is Die Burger se medewerker in Duitsland.
Met erkenning aan Hendrik Schott en Die Burger.