Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-08-05 Reporter: Erika Gibson

Hawk-besluit Goed vir SA

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-08-05

Reporter

Erika Gibson

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Pretoria - Sekere Suid-Afrikaanse wapenvervaardigers gaan baat vind by die besluit van die Britse departement van verdedeging om BAE Systems se Hawk as sy gevorderde gevegsopleidingsvliegtuig vir die 21ste eeu te behou.

Die besluit red nie net in Brittanje tot 2 200 poste nie, maar sal waarskynlik ook in Suid-Afrika, waar vervaardigers soos Denel met rasionalisering besig is, tot voordeel van werknemers wees.

Die Britse departement van verdediging het vandeesweek aangekondig hy bestel 20 Hawk Mk 128- gevegsopleidingsvliegtuie as deel van dié besluit, met die opsie vir ‘n bykomende 24. Dit vervang die verouderde Hawk-vloot van die Britse lugmag.

Die vliegtuie sal in 2008 in diens gestel word kort nadat Suid-Afrika sy eerste Hawks ontvang het.

Volgens mnr. Linden Birns, woordvoerder van BAE Systems in Suid-Afrika, sal die besluit ‘n regstreekse uitwerking op dié vervaardiger se teenhandelbetrekkinge in Suid-Afrika hê.

Weens dié verpligtings voortspruitend uit die Suid-Afrikaanse lugmag se bestelling van Hawks, vervaardig Denel reeds die stertvlak-komponente vir die vliegtuig. Aerospace Monitoring Systems vervaardig die vlugdata en enjinprestasieopnemers, Advanced Technologies & Engineering lugvaartelektronika en Tellumat radio-transpondeerders.

BAE Systems se kwaaiste mededinger om die Britse kontrak was die Italiaanse Aermacchi - toevallig ook een van die mededingers om die Suid-Afrikaanse kontrak ‘n paar jaar gelede.

BAE Systems is volgens Sapa-AP die afgelope paar maande herhaaldelik gekritiseer oor ondoeltreffendheid.

Vakbondbase in Brittanje het gewaarsku die groot verliese aan werkgeleenthede, as BAE Systems nié die bestelling kry nie, sal nadelig vir die ekonomie wees.

Mnr. Tony Blair, premier, het kort voor die aankondiging gesê die besluit is geneem om die belange van die Britse vervaardigingsbedryf te dien, maar moet terselfdertyd kostedoeltreffend wees.

Met erkenning aan Erika Gibson en Die Burger.