Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-09-08 Reporter: Sonja Carstens

Besluit Oor Vervolging kan Heroorweeg Word

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-09-08

Reporter

Sonja Carstens

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Johannesburg - Die nasionale vervolgingsgesag kan enige tyd besluit om adj.pres. Jacob Zuma te vervolg op aanklagte van korrupsie, diefstal en bedrog as daar nuwe getuienis na vore kom.

Dit was die reaksie van mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale vervolger, op Zuma se bewerings dat hy gestroop is van die reg om sy onskuld in 'n hof te bewys nadat besluit is om hom nie te vervolg nie.

"Daar is 'n prima facie-saak teen die adjunkpresident, maar nie noodwendig 'n saak wat in 'n hof gewen gaan word nie.

"As nuwe getuienis na vore kom, sal vervolging beslis weer oorweeg word," het Ngwema gesê.

Dié uitlating het fel kritiek van regslui ontlok wat beweer die nasionale vervolger het in ander sake beskuldigdes vervolg op grond van prima facie-bewyse, ongeag of die staat oortuig is hy kan wen.

"As in alle sake net vervolg word as die staat oortuig is dat hy sal wen, sal daar geen sake op die hofrolle wees nie. 'n Saak is net so sterk as wat die getuienis is. Daarbenewens berus die besluit by die voorsittende beampte wat die saak aanhoor," het me. Heidi Barnard, 'n prokureur, gesê.

Mnr. Tertius Rademeyer, ook 'n prokureur, meen dit is "vreemd" dat die vervolgingsgesag telkens in sake teen "hoë politieke figure" besluit om die vervolging anders as in normale sake te hanteer.

Volgens Rademeyer het die staat vir 'n "buitensporig ligte vonnis" gevra in die bedrogsaak teen Winnie Madikizela-Mandela, oudpresident van die ANC-vroueliga. Daarby het die staat die vonnis van Tony Yengeni, gewese ANC-hoofsweep wat skuldig bevind is aan bedrog, in die hande van die hof gelaat.

Ngcuka het vroeër gesê albei "verdien nie" tronkstraf nie.

Volgens Rademeyer is dit "lagwekkend" dat die vervolgingsgesag sê dit is nie in die openbare belang om 'n beskuldigde te vervolg nie, soos in die geval van mnr. Trevor Abrahams, geskorste kommissaris van die Burgerlugvaartowerheid (BLO).

Abrahams is verdink van oortredings van lugvaartregulasies en beweerde bedrog. Hy was glo saam met lede van die BLO betrokke by vlieglisensiebedrog waarin eksamenvraestelle na bewering verkoop is. Die saak is teen hom teruggetrek nadat Ngwema gesê het dit is nie in "die openbare belang" om hom te vervolg nie.

Met erkenning aan Sonja Carstens en Die Burger.