Manuel 'Hét Alle Wapen-Dokumente Gegee' |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-09-25 |
Reporter |
Anesca Smith |
Web Link |
Kaapstad - Mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, het gister volgehou hy het reeds alle dokumente oor die wapenpakket wat hy ingevolge 'n hofbevel aan 'n finansiële drukgroep moes oorhandig, aan hulle gegee.
Beskuldigings het gister oor en weer gevlieg tussen Manuel en die organisasie Economists Allied for Arms Reduction (Ecaar) oor 'n dokument wat aandui of Suid-Afrika die wapenpakket kan bekostig.
Ecaar het ingevolge 'n hofbevel in Maart vanjaar toegang gekry tot dié bekostigbaarheidstudie, maar beweer hy het tot dusver net 28 bladsye van die dokument van na raming 700 bladsye gekry. Die organisasie het nou die tweede keer 'n aansoek om minagting van die hof teen die regering ingedien.
Manuel, wat vandag terugkeer uit Doebai, hou egter vol daar is geen uitstaande dokumente nie. 'n Kort verklaring wat hy gister uitgereik het, lui: "Die enigste mens wat minagtend van die hof optree, is (Ecaar se voorsitter) mnr. Terry Crawforde-Browne, wat weier om die hof se bevindings te aanvaar."
Crawforde-Browne het gister gesê die hof sal nou maar moet bepaal wie die waarheid praat.
"Getuienis wat in Julie 2001 voor die openbare beskermer gelewer is, dui aan dat die bekostigbaarheidstudie minstens 640 bladsye lank is.
"Die gesamentlike ondersoekverslag oor die wapentransaksie het ook aangedui dat dit 'n 'lywige' dokument is."
Manuel het gister ook gekap na Ecaar en gesê hulle bereken die koste elke keer dat Crawforde-Browne hof toe gaan.
Met erkenning aan Anesca Smith en Die Burger.