Publication: Die Burger Issued: Date: 2000-10-31 Reporter:

Immorele Wapenhandel Kan SA Skade Berokken

 

Publication 

Die Burger

Date 2000-10-31

Web Link

www.news24.co.za

 

In baie demokratiese lande is internasionale handel in wapens en wapenstelsels 'n hoogs omstrede saak, veral omdat talle etiese vraagstukke daarin opgesluit lê.

Die Suid-Afrikaanse regering sou gevolglik onwys wees om nie ten minste die kritiek van die menseregte-organisasie Human Rights Watch oor sy verkoop van wapens in ag te neem nie, selfs al stem hy nie met die kritiek saam nie.

Human Rights Watch het die verskil tussen die teoretiese beleid van die Regering en die praktyk in 'n verslag vandeesweek skerp gekritiseer en gesê dit is dikwels eerder op ekonomiese doelstellings as morele beginsels gegrond.

Hoogs suksesvol

Ter agtergrond moet 'n paar sake in ag geneem word.

In die jare voor 1994, toe die wapenboikot nog van krag was, is Suid-Afrika gedwing om sy eie wapennywerheid te ontwikkel. Dit was tegnologies hoogs suksesvol, maar ook buitengewoon duur.

Die destydse regering het dus min voorbehoude oor die verkoop van wapens gehad - sake is gedoen met enigiemand wat die regte prys kon betaal. Wapens, veral die G-5 artilleriestelsel, is luidens berigte byvoorbeeld aan sowel Irak as Iran gelewer terwyl hulle in 'n oorlog met mekaar betrokke was. Infanteriewapens is ook aan Rwanda verkoop, waarmee die volksmoord teen die Tutsi's onder meer gepleeg is.

Teen 1996 het die onhoudbaarheid van só 'n totaal immorele beleid al hoe meer geblyk. 'n Komitee vir die Beheer van Konvensionele Wapens is gevolglik onder die voorsitterskap van min. Kader Asmal in die lewe geroep om toesig te hou oor die verkoop van Suid-Afrikaanse wapenstelsels elders in die wêreld.

Terselfdertyd is twee oorkoepelende vereistes in die land se uitvoerbeleid ingebou: wapens sal nie gelewer word aan state wat menseregte vertrap of by streekkonflikte betrokke is nie. Dit om die verwyt te vermy dat Suid-Afrika immorele regimes steun of konflikte aanstook.

Die praktyk wyk egter aansienlik hiervan af. Human Rights Watch bevestig in sy verslag dat wapens gelewer is aan lande soos Indië, Pakistan, Colombia, die Kongo (Brazzaville) en Algerië. Al vyf is by streekkonflikte betrokke, en vier (Indië is die enigste uitsondering) is óf diktature óf outoritêre state wat menseregte vertrap.

Om sake te vererger, dien 'n wetsontwerp oor die saak tans voor die Parlement. Daarin kry die Regering die reg om wapens te verkoop aan wie hy wil, waardeur die beleid wat teoreties sedert 1996 gegeld het, by die venster uitgesmyt word.

Gelukkig het die Parlement die ontwerp teruggestuur na die Departement van Verdediging om herskryf te word.

Teen 'n wapennywerheid - en dus ook wapenhandel - kan daar in beginsel geen beswaar wees nie.

'n Wapennywerheid is 'n strategiese bate vir 'n land, want dit hou hom aan die voorpunt van tegnologiese ontwikkelings. En op die duur kan dit ook groot en positiewe invloed op die burgerlike sektor hê.

Sedert die einde van die Suid-Afrikaanse burgeroorlog in 1990 het daar nie slegs 'n herskikking in die wapennywerheid plaasgevind nie, maar aangesien die behoefte van die grootste klant, die Weermag, aansienlik afgeneem het, moes innoverend gedink word om die militêre tegnologie vir burgerlike doeleindes in te span - en daarin is in groot mate geslaag.

Onderhewig aan sekere voorbehoude is ook met wapenhandel niks verkeerd nie.

Denel het byvoorbeeld besluit dat die Rooivalk die laaste volledige wapenstelsel is wat Suid-Afrika in die buiteland gaan bemark; dit kos eenvoudig te duur. Dus gaan hy hom voortaan toespits op kritieke onderdele van wapenstelsels wat elders ontwikkel is.

Dit het die voordeel dat die ontwikkelingskoste veel laer is en dat iemand anders vir die bemarking van die wapens verantwoordelik is.

So het Suid-Afrika die reg verkry om sekere onderdele vir die Hawk opleidingsvliegtuig aan die vervaardiger, British Aerospace, te lewer. Daar is ander sulke voorbeelde ook.

Voorbeeldige demokrasie

Brittanje is 'n voorbeeldige demokrasie en is nie by streekkonflikte betrokke nie.

Met die beleid waartoe die Regering in 1996 besluit het, skort nie veel nie. Hy moet dit net nakom.

Daarom oortuig Asmal se heftige reaksie op die kritiek van Human Rights Watch geensins. Hy bly by vaaghede en kan nie aandui waar die organisasie dan feitefoute sou begaan het nie.

'n Wapenhandelsbeleid sonder beperkinge kan Suid-Afrika internasionaal kwaai skade berokken. Asmal kan dus eerder sy immorele benadering vir 'n beter een verruil, pleks van om so te kere te gaan.

Met erkenning aan die Burger.