Publication: Rapport Issued: Date: 2003-08-02 Reporter: Adri Kotzé, Pieter Malan

Inlywing bedreig Skerpione

 

Publication 

Rapport

Date 2003-08-02

Reporter

Adri Kotzé, Pieter Malan

Web Link

www.news24.com

 

Die toekoms van die Skerpioene as onafhanklike eenheid in die departement van justisie is in die weegskaal met groot druk, veral uit politieke en polisiegeledere, dat die eenheid deel word van die polisie.

Die moontlikheid word al geruime tyd op hoë vlak bespreek, maar is die afgelope week op die spits gedryf ná die openbare twis tussen die Skerpioene en adj.pres. Jacob Zuma. Zuma het die Skerpioene daarvan beskuldig dat hulle 'n lys vrae aan hom wat verband hou met hul ondersoek na die wapenaankope aan die media laat val het.

'n Klag wat mnr. Mac Maharaj, voormalige minister van vervoer, by die polisie ingedien het oor die beweerde uitlekking van inligting oor 'n ondersoek deur die Skerpioene na die belastingsake van sy vrou, Zarina, was verder olie op die vuur.

Pres. Thabo Mbeki het die afgelope Dinsdag die debat uit die binnekring na die openbare verhoog geneem met sy opmerking dat "een van die opsies" om die inherente spanning tussen die polisie en die Skerpioene te besleg, is om die Skerpioene by die polisie in te lyf.

Mbeki sê dit sou verkeerd wees om die spanning tussen die Skerpioene en die polisie as "iets tussen individue" te beskou.

"Die probleem is 'n strukturele een, wat ontstaan het in die evolusie in ons misdaadbestrydings- en veiligheidstelsel.

"Die faktore wat ons gemotiveer het . . . om die Skerpioene te stig, het nie verander nie. Die eenheid sal daarom nie ontbind nie."

Verskeie bronne na aan die Skerpioene het die afgelope week bevestig daar word gepraat oor die moontlikheid dat die Skerpioene 'n spesialis-eenheid in die polisie word.

"Dit lyk al hoe meer na 'n voldonge feit en nie net meer gerugte nie," sê 'n senior polisie-offisier.

Die ondersoekers van die Skerpioene (van wie baie lede voormalige polisiemanne is) gee blykbaar nie om dat die eenheid geskuif kan word om onder die bevel van komm. Jackie Selebi, polisiehoof, te staan nie.

Van die ondersoekers meen dat ondersoekwerk in 'n polisie-eenheid makliker sal wees, onder meer omdat minder dokumentasie nodig is voordat 'n ondersoek kan begin.

Die Skerpioene se regslui is egter sielsongelukkig oor enige moontlike skuif.

Daar was sedert die ontstaan van die Skerpioene spanning tussen dié eenheid en die polisie.

Mnr. Henri Boshoff, ontleder van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê dié spanning het veral te doen met die strukture en rolverdeling van die twee instellings.

"Daar was van die begin af oorvleueling (van take) en 'n getwis tussen die twee. Só sou die polisie begin het met 'n saak en dan neem die Skerpioene die dossier oor. Natuurlik sal die polisie se ondersoekbeampte dan bitter ongelukkig wees."

Senior polisie-offisiere sê hulle kan nie verstaan waarom die Skerpioene gewone misdaadsake, soos moordondersoeke, oorneem nie.

Die eenheid is aanvanklik gestig om georganiseerde misdaad en korrupsie te pak.

Ook Mbeki het vandeesweek opgemerk dat hy al gewonder het waarom die Skerpioene spesifieke sake ondersoek.

Volgens Boshoff is die spanning tussen die polisie en die Skerpioene vererger deur die groot verskil in hulpbronne.

Die Skerpioene se lede word oor die algemeen beter betaal, het hulpmiddele soos rekenaars en beter voertuie en die eenheid kry die ondersteuning van top-advokate in die nasionale vervolgingsgesag.

Aan die ander kant kla polisiemanne oor hul salarisse, het dikwels nie 'n voertuig om na 'n misdaadtoneel te gaan nie en is 'n prokureur of advokaat wat help om 'n saak hofgereed te kry 'n ongehoorde luukse.

Boshoff sê hy kan nie sien hoe die Skerpioene in polisiegeledere sal inpas nie. Daar sal veral 'n probleem wees met die Skerpioene se regsgeleerdes, wat onder die departement van justisie ressorteer.

"Hulle moet eerder besin oor die rol en funksies van elkeen en dit duidelik afbaken."

Ook mnr. Anton du Plessis, hoof van die ISS se program vir misdaad en geregtigheid, sê hy glo die moontlikheid om die Skerpioene 'n spesialis-polisie-eenheid te maak "is nie 'n opsie nie".

Hy sê dit sou die hele fondament waarop die Skerpioene in die eerste plek gebou is, ondergrawe.

Volgens Du Plessis sou dit ook 'n Grondwet-wysiging verg omdat vervolging 'n grondwetlike funksie van die minister van justisie is - die polisie kan nie iemand fisiek in die hof aankla nie.

Hy sê die eenheid se werkmetodes is gebou op drie bene: misdaadinligting, ondersoek en vervolging.

"Die polisie kan argumenteer dat hulle dieselfde werkwyse het, maar die verskil is dat die aanklaers in die Skerpioene saam met die ondersoekers werk."

Du Plessis sê die tydsberekening vir dié argumente is "ongelooflik sleg" in die lig van die feit dat die Skerpioene besig is met die politiek sensitiewe ondersoeke na Zuma se beweerde aandeel in die wapenskandaal en na Maharaj.

Bronne na aan adv. Bulelani Ngcuka, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (die Skerpioene), sê Ngcuka glo die oplossing vir die probleem is die stigting van 'n ministeriële komitee, wat bestaan uit die ministers van jusitisie, veiligheid en sekuriteit en korrektiewe dienste, om die onmin tussen die Skerpioene en die polisie te besleg.

Du Plessis sê die wet maak voorsiening vir só 'n komitee met die spesifieke doel om die spanning te ontlont. Du Plessis sê die komitee het egter nog nooit byeengekom nie. Hy sê die bespiegeling oor die politieke druk waaronder Ngcuka verkeer, is tans "niks meer as bespiegeling nie".

"Die feit is dat sy verbintenis tot vreeslose en objektiewe vervolging nog nie getaan het nie."

Mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die Skerpioene, sê hulle gaan "beslis nie" kommentaar lewer op die toekoms van die eenheid nie. Dir. Sally de Beer, woordvoerder van Selebi, het ook gesê hulle kan in dié stadium niks sê nie.

Met erkenning aan Adri Kotzé, Pieter Malan en die Rapport.