Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-07-01 Reporter: Erika Gibson

Instansie Kry Glo Miljarde met Wapens

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-07-01

Reporter

Erika Gibson

Web Link

www.news24.co.za

 

Johannesburg - 'n Geheimsinnige instansie in Suid-Afrika kon as agent in die Britse wapenverskaffer BAE Systems se transaksie om Hawk-vegopleidingsvliegtuie aan Suid-Afrika te verkoop, tot R2 miljard (?160 miljoen) se kommissie verdien het.

Die Britse regering het die betaling van die kommissie gister bevestig, maar sy departement van handel en nywerheid (DTI), wat die transaksie goedgekeur het, weier om die presiese bedrag bekend te maak.

Die Britse koerant The Guardian het gister berig hy beskik ook oor inligting wat daarop dui dat mnr. Joe Modise, ontslape minister van verdediging, ten tyde van onderhandelings oor die transaksies R6 miljoen aan omkoopgeld verdien het om minstens een van die kontrakte te bevoordeel.

Hy het glo daarvoor gesorg dat die Italiaanse vliegtuigvervaardiger Aermacchi, wat die ander opsie vir die verskaffing van vegopleidingsvliegtuie aangebied het, nié as voorkeurkeuse uit die stryd getree het nie.

Die DA het gisteraand by monde van me. Raenette Taljaard, woordvoerder oor wapentransaksies, geeis dat die Suid-Afrikaanse regering sy verpligting nakom om die identiteit van die "agent(e)" wat gebaat het by die transaksie, openbaar te maak.

BAE Systems het gisteraand in reaksie gesê dit is geensins ongewoon dat 'n buitelandse maatskappy in 'n nuwe mark soos Suid-Afrika van konsultante gebruik maak nie.

Hy het ontken dat daar met die oorbetaling van die kommissie "enige korrupsie of beoogde korrupsie was"..

The Gaurdian het gister berig dat BAE Systems weier om weens die vertroulike aard van die transaksie die naam van die "agent" of "agente" in Suid-Afrika bekend te maak.

Na berig word, het die Britse DTI erken hy weet ook nie aan wie die geld uitbetaal gaan word nie, ondanks die feit dat dié departement die leningswaarborge vir die transaksie van R18 miljard moes verskaf het.

BAE Systems het al in die verlede R2 miljard se kommissie betaal op soortgelyke kontrakte.

Volgens die Britse DTI was die betrokke bedrag "binne aanvaarbare perke".

Me. Patricia Hewitt, die Britse handelsekretaris, het gister op parlementêre vrae geantwoord die DTI vereis dat sekere besonderhede van agentekommissie in groot transaksies aan die DTI verskaf móét word.

Volgens haar is die nodige noukeurige prosedures gevolg en haar departement het geen onreëlmatighede in die proses bespeur nie.

Mnr. Andrew Feinstein, voormalige ANC-LP en voorheen lid van die staande komitee vir openbare rekenings (Skoor), het aan The Guardian gesê die Britse en Suid-Afrikaanse regerings het in openbare belang 'n verpligting en verantwoordelikheid om besonderhede oor die agent of agente bekend te maak.

Hoewel die transaksies reeds in 1999 onderteken is, sal die betaling van die kommissie heel moontlik nog vir die volgende paar jaar voortduur totdat die vliegtuie teen 2006 afgelewer word.

Met erkenning aan Erika Gibson en Die Burger.