Klaer Vra Tronkstraf vir OG as Hy Nie Wapenverslag Lewer |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-06-23 |
Reporter |
Anesca Smith |
Web Link |
KAAPSTAD. - 'n Kaapse sakeman, dr. Richard Young, het 'n mosie by die Pretoriase hooggeregshof ingedien wat vra dat die ouditeur-generaal opgeskorte tronkstraf opgelê word, sou dié nie voor 8 Julie alle weergawes van die wapenverslag aan hom oorhandig nie.
Die hooggeregshof het in November verlede jaar gelas dat die OG, mnr. Shauket Fakie, die verslae aan Young oorhandig.
Volgens laasgenoemde is duisende dokumente egter nog uitstaande en hy wil nou 'n klag van minagting van die hof teen Fakie aanhangig maak.
Young meen die bod van sy maatskappy, CCII, vir van die wapenkontrakte het misluk weens onreëlmatighede in die toekenning van die kontrakte.
Hy het sedert November wel toegang tot van die dokumente gekry en beweer daar is aansienlik aan die finale verslag gepeuter voordat dit die parlement bereik het. Die OG het die ondersoek na die wapentransaksie gelei.
Sou Fakie nie aan die ultimatum gehoor gee nie, het Young se prokureurs aansoek gedoen dat die mosie op 15 Julie voor die hof aangehoor word. Hulle vra dat die OG tronkstraf van 'n maand opgelê word.
Fakie het aan Die Burger gesê sy prokureurs is in kontak met dié van Young. Dit word egter deur laasgenoemde ontken. Fakie het ook aangedui dat hy geensins planne het om te bedank soos die DA geëis het in die lig van die bewerings nie. Hy sal Vrydag 'n verslag aan die parlement voorlê in reaksie op bewerings dat belangrike inligting uit die verslag gelaat is in die redigeringsproses.
"Ek staan by my oorspronklike verklaring dat geen wesenlike veranderings aan die finale verslag aangebring is nie," het Fakie gesê.
Met erkenning aan Anesca Smith en Die Burger.