Korrupsie - Krapper |
Publication | Advokaat Reg |
Date | 2003-09-01 |
Reporter |
Johan van Zyl |
Dit word die nuwe K-woord genoem, dié nuttigste van nuttige kweperlatte waaronder ons maghebbers deesdae deurloop.
Veral ná die politieke inmenging by die ondersoek na die multimiljardrand-wapentransaksie wat onrustig, nes ‘n opgeefsel, in die media en volksgemoed bly dwaal. Maar bowenal ná die eliminasie van een man, die een wie se onhullings van 1997 to 2001 die land laat gons het.
Meer as twee jaar nadat oudregter Willem Hendrik Heath sy tasse moes pak, glo Suid-Afrikaners die oorblywende troppie korrupsie-waghonde is brandsiek en haasbek met net enkele afgeslete malers wat al om die skrikkeljaar ‘n vleisie pot toe bring...
Die spieël, ‘n grote in wit bedruk met ‘n louriekrans en twee gekruiste swaarde onder letters wat "Fedelitas Heath Special Investigating Unit" spel, is die allerlaaste wat ‘n mens in die raadskamer van Heath Specialist Consultants verwag. Dié nestel in ‘n onopsigtelike grys gebou digby die Tygervallei-winkelsentrum in die Kaap, van waar Heath hom deesdae in samewerking met strategiese vennote toespits op finansiële en bestuurstelsels van maatskappye.
"‘n Afskeidsgeskenk toe ek bedank het,"sê hy, die spieël." En dan met oë stip gerig op jou bolpuntpen en beteuterde A5-snelskrifvelletjies : "Ek sou dink joernaliste is ‘n bietjie meer by met die moderne tegnologie...darem wonderlik wat jy deesdae alles kry. Ons gebruik byvoorbeeld bandopnemers wat agtien uur lank kan opneem."
Advokaat Heath - sy assistent het dié titel benadruk toe ek in ‘n eerste oproep per abuis na "die regter" verwys het - hou gemaklik in sy huid. Hy is ‘n blas man. ‘n Donkerblou driehoek-T-hemp net-net bo die boonste knoop van sy geruite hemp sigbaar. Sy Afrikaans suiwer met ‘n onmiskenbare Engelse klankie.
Wyl jy ter inleiding ‘n stukkie voorlees, knik hy met ritmiese tussenposes sy kop en hou ‘n vae geamusseerdheid om sy mond in stand.
"Prof. Nikos Passas van die Temple-universiteit in Philadelphia, Amerika, het in Mei vanjaar by die elfde internasionale konferensie teen korrupsie in Seoel die toename in debatte oor en die magdom strenger maatreëls teen korrupsie toegeskryf aan groter deursigtigheid en mediavryheid, ‘n publiek wat beter ingelig is en gevolglik minder duld, asook die algemene en dikwels ondeurdagte persepsie dat korrupsie sal toeneem," sê jy.
En hy: "Mmm, so is dit dalk. Miskien lyk die huidige regering meer korrup, maar dis waarskynlik omdat ons verwagtinge van integriteit en deursigtigheid soveel hoër is as in die vorige onderdrukkende bestel, van wie ‘n mens amper nie morele gedrag verwag het nie. Die media, gevolglik ook die publiek, fokus graag op die sentrale regering, terwyl provinsiale en plaaslike administrasies, gewone mense soos jou buurman asook sakelui - dink aan die plaaslike banksandale en die val van Enton en Tigon - net so korrup kan wees én stellig nóg onwilliger is om teen skuldiges op te tree omdat hulle nie vertroue in die polisie of regstelsel het nie, onkundig is of slegte publisiteit vrees.
"En, sê hy, "my werk tans en toe ek hoof van die teenkorrupsie-eenheid was, laat my glo dat daar in Suid-Afrika ‘n kultuur van oneerlikheid heers. Dikwels, as ek hier of oorsee werksessies oor korrupsie, bedrog of wanadministrasie aanbied, vra ek die deelnemers of hulle al ‘n misdaad gepleeg het. Natuurlik kom dit soos ‘n koor : Néé. Nóóit.
"Maar wat dan van ouers wat Saterdagaande langs die braaivleisvuur vóór hulle kinders spog oor hoe hulle die spoedgrens oorskry het? Of wat van die armste tot die rykste gemeenskappe?
"Wat gebeur met die skuldiges? Meestal niks, dalk ‘n waarskuwing of verplasing; soms ontslag, en op die koop toe selfs ‘n goue handdruk! Daar word nie van naastenby genoeg mense voorbeelde gemaak nie. Talle, dink ek, weet régtig nie meer wat reg en verkeerd is nie.
"Dis hoekom ek glo die regering moet die leiding neem en ‘n voorbeeld stel. Deur baie van die drastiese onreëlmatighede sedert 1994 ongestraf te laat stuur die regering nie die boodskap uit dat dié optrede reg was nie - selfs al word jy uitgevang. Dis wat wetsgehoorsame mense gefrustreerd en ontmoedig laat voel en hulle vertroue in die staat en die regbank verminder."
Die logo van Heath Specialist Consultants was ‘n paslike beeld toe ‘n politieke ontleder Heath ná sy ondersoek van die Kaapse straatnaamdebakel uitgekryt het as ‘n megalomaan met ‘n ongesonde voorliefde vir publisiteit.
Buite teen die gebou, in die ingangsportaal en teen die vergaderkamer se deur merk ‘n mens die roofvoël wat met gebalde kloue uit sy hemelse koninkryk neerskiet.
"Dit was ‘n verwronge aanval daardie," sê hy, kry selfs lag omdat die roofvoël die voorstel was van ‘n vriendin van sy dogter, Onelia. "Volgens hulle was dit belangrik dat ‘n onderneming ‘n logo moet hê."
En tog moes dít, asook sy voortdurende onthullings, ‘n rol gespeel het in pres. Thabo Mbeki se uitbarsting oor diegene wat ‘n veldtog teen die regering in die algemeen en die voortdurende korrupsiebewerings rondom die wapentransaksie.
Hoewel Heath nie by die naam genoem is nie, het Mbeki destyds in ANC Today, die regerende party se nuusbrief, geskryf die aanklagte berus op die rassistiese oortuiging dat swart mense van nature geneig is tot korrupsie, wanbestuur en omkoopbaarheid.
Dis merkbaar nog ‘n teer puntjie vir die advokaat, wat eers sy linker-en regter-vinger-toppe saampers en ná ‘n diep asemteug sug : "Tipiese veralgemening, want die meerderheid - verre-vérreweg die meerderheid - regeringsamptenare is nie korrup nie. Jong demokrasieë het klaarblyklik die geneigheid om ‘n bietjie oorsensitief te wees," sê hy met ‘n geheimsinnige glimlaggie, "en dan word die media en mense soos ek as onpatrioties uitgeryt omdat ons onthullings glo buitelandse hulp en beleggings in gevaar stel.
"Maar goed, ek wás die een wat die korrupsie openbaar het. Ek hét by tye baie sterk uitsprake gemaak. Omdat die Heath-eenheid so toeganklik was - en ‘n mens die media net ‘n halwe woord kan gee en dan is hulle op die agterpote - het die média merendeels die aanvalswerk gedoen en só ‘n wesenlike rol gespeel om die gaping tussen my en die regering te skep. Ek dink nie dis my of die media se skuld nie, want die regering het die ideale geleentheid gehad om by die publiek vertroue in te boesem, maar hulle het die nie gebruik nie.
"Dit kan nie verder van die waarheid wees om te impliseer my werk is deur rassistiese oortuigings gedryf nie. Selfs nadat my ontslag as regter afgekeur is en ek bedank het om my eie onderneming te begin, was daar pogings van party mense in die regering om al my kritiek af te maak as kleinlike, persoonlike frustrasie, asof ek met ‘n suur gesig in die hoek gaan sit en sanik het.
"Daar het stories rondgeloop dat ek dink ek is te groot om my weer as ‘gewone' regter met strafsake besig te hou. Dis nie dat ek te goed was vir moordsake nie; ek het gewoon nuwe belangstellings en nuwe vaardighede gehad wat ek elders wou aanwend, buite die vier mure van die ivoortoring waarin regters dikwels vasgevang sit.
"Jou uitdaging as regter is tog om by die waarheid uit te kom en reg te laat geskied, maar jy kan jou in dié soektog net verlaat op wat die onderskeie partye aanbied. Jy het nie ‘n vrye hand in die ondersoek nie. Dis benouend, veral vir my, wat hou van speurwerk.... weliswaar op ‘n ander vlak as die polisie. Speurwerk met die kop,"sê hy, en wys na sy kop, asof met ‘n pistool.
"Weet jy, vandag nog kry ek reaksie uit alle gemeenskappe, maar - ironies genoeg - is dit meestal swart mense wat my voorkeer op lughawens, parkeerterreine en winkelsentrums. Ja, selfs van ANC-LP's in die gange van die Parlement! Hulle haat vir die regering is die hewigste want, sê hulle, die regering se eerster reaksie is altyd om alles toe te smeer."
Die wapentransaksie, waarby selfs adj. pres. Jacob Zuma nou betrek word, word nie net deur die Skerpione nie, maar nogmaals deur die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) bekyk ná bewerings dat belangrike strafregtelike bevindings uit die finale verslag weggelaat is. Heath het nie veel hoop nie.
"Ek glo regtig ál die mense van Suid-Afrika is ‘n onreg aangedoen met ‘n wapenondersoek en -verslag wat nie van die belangrikste vrae oor die aanspreeklikheid van ministers of die geldigheid van party kontrakte beantwoord nie. Ná die ingryping van die uitvoernede gesag by die vorige Skoor-ondersoek glo ek die komitee gaan gewoon te bang wees om hierdie keer ‘n objektiewe ondersoek te begin."
Hy glimlag weer, nou effe minder sinies, en laat val half terloops hoe hy dit geniet om mense tydens formele en informele gesprekke te ontleed.
"Hande en oë, gebare, lyftal....daar is heelwat afleidings uit mense se reaksies te maak."
Heath leun terug in sy stoel.
"Die koppestampery tussen my en die regering is maklik te verklaar. By die eenheid het hulle téén my begin veg in plaas daarvan om saam te werk. Hulle het bewerings ontken, verdagtes beskerm en met ‘n gebrek aan aksie nogmaals die probleem ontwyk. Dít is lynreg in botsing met my filosofie : Jy erken die probleem; jy ondersoek dit en kry bewyse; jy doen voorstelle om dit op te los; jy laat die skuldiges aan die pen ry; jy los die probleem op."
Alles word klaarblyklik net so toegepas by Heath Specialist Consultants, waar sy seuns, Wimpie en Marius, deel uitmaak van die personeel van agt.
"Ons houding is reguit teenoor potensiële beleggers vir wie ons integriteitsondersoeke behartig : Ons het ‘n misdaadprobleem; ja, omtrent niemand in die land stem saam met die regering se hantering van MIV-vigs nie; ja, hier is soms oneerlike mense wat beleggers mislei; ja, hier's dalk bedrog, wanadministrasie en nepotisme. So, dis die slegte nuus."
Dan verhelder sy gesig en hy verwys na Nepad, wat vir die vasteland Amerikaanse beleggings van miljarde rand wil verseker.
En die sukses hiervan, glo Heath, sal grootliks bepaal word deur beleggers se persepsies oor staatsbestuur in Suid-Afrika.
"Omdat ek ‘n ernstige, toegewyde Suid-Afrikaner is wat ondanks aanbiedinge uit die buiteland nie die land sal verlaat nie, het ek vir beleggers ook goeie nuus: Ons het wonderlike mensemateriaal, mense wie se gees en drome dramaties gegroei het sedert 1994, én hier is geleenthede en ‘n toekoms wat jy nêrens sal kry nie. Mits jy bereid is om ‘n risiko te loop, ‘n bereikende risiko, want hoewel winste nooit gewaarborg is nie, kan moontlike probleme beheer of opgelos word, veral as jy vooraf daarvan bewus is.
"Ek voel ek lewer ‘n positiewe bydrae omdat beleggers ‘n volledige prentjie kry, maar party regeringmense en sakelui het die geneigdheid om misdaad, korrupsie en ander struikelblokke te onderspeel of heeltemal te ontken omdat hulle dink dís hoe ‘n mens beleggers positief stem."
Hy knik, staan op, gaan haal ‘n visitekaartjie. En toe eers, met jou oog op die spieël, besef jy waarom die onopvallende grys gebou so verrassend was. In die modewêreld deug dié kleurkombinasie dalk, maar grys komplementeer nie ‘n suiwer swart-en-wit-man nie.
Met erkenning aan Johan van Zyl en die Advokaat Reg.