'Korrupte Verhouding' Kom Ver |
Publication | Beeld |
Date | 2003-08-27 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Sowat drie jaar nadat bewerings van 'n wapenskandaal begin kop uitsteek het, is mnr. Schabir Shaik, vetroueling van adj.pres. Zuma, Dinsdag aangekla. Dries Liebenberg berig oor die bewerings in die klagstaat. Al sedert adj.pres. Jacob Zuma se dae as KwaZulu-Natal se LUR vir ekonomiese aangeleenthede en toerisme ná die eerste demokratiese verkiesing was daar 'n "algemeen korrupte verhouding" met sy vertroueling, mnr. Schabir Shaik.
Só som die Skerpioene die aanklagte teen Shaik op wat vandeesweek in 'n klagstaat van 45 bladsye in die Durbanse landdroshof ingedien is.
Nkobi Holdings, wat in Februarie 1995 as maatskappy geregistreer is, is genoem na mnr. Thomas Nkobi, eertydse tesourier-generaal van die ANC en mentor van dié sakeman.
In die klagstaat word Nkobi-promosiemateriaal aangehaal waarin Shaik sy "wye verskeidenheid sake- en politieke kontakte" onder meer toeskryf aan sy "uitgebreide reise in die buiteland" saam met Zuma en Nkobi.
Zuma het uit die staanspoor 'n geheime aandeel in die Nkobi-groep gehad wat gratis aan hom gegee is, voer die staat aan. Hierbenewens het Shaik glo volle tekenregte vir die finansiering en bestuur van Zuma se persoonlike geldsake.
In die klagstaat word minstens sewe gevalle tussen 1995 en 2000 genoem waar Shaik in die najaag van sakegeleenthede na bewering sy verbintenis met Zuma gebruik het.
In 1995 het die regering voorstelle van die private sektor gevra vir die ontwikkeling van die Punt-gebied, 'n afgeleefde deel van die stad waar vandag 'n marina en marienepark gebou word.
Een van die belangstellendes was die Maleisiese konglomeraat Renong Overseas Corporation, tesame met die bemagtigingsmaatskappy Vulindlela.
Die aand voordat voorleggings aan die Punt-waterfrontmaatskappy in November 1995 gedoen sou word, het Shaik glo op 'n vergadering aan mnr. David Wilson, besturende direkteur van Renong, gesê sý konglomeraat is "baie magtig en invloedryk".
Dit sou nie in Renong se belang wees om in vennootskap met Vulindlela met sy planne voort te gaan nie, het Shaik glo voorts gesê.
Sowat 'n jaar later het Zuma na bewering tydens 'n ontmoeting met 'n verteenwoordiger van Renong sy ontevredenheid oor die maatskappy se vennote uitgespreek en voorgestel dat Shaik by die projek betrokke moet wees.
Aan die einde van Zuma se termyn as KwaZulu-Natalse LUR het Shaik in 1999 'n professor van die Universiteit van Glasgow gehelp om briewe van Zuma te kry waarin die politikus die akademikus se planne vir 'n ekotoerismeskool in KwaZulu-Natal steun.
Toe dit egter blyk dat prof. John Lennon nie van plan is om Nkobi by sy planne in te sluit nie, het Shaik luidens die klagstaat aan mnr. Deva Ponnoosami geskryf dat hy Zuma die volgende dag spreek en "al die nodige" sal doen om Lennon te stuit.
Intussen het die Franse maatskappy Thomson-CSF hom luidens die klagstaat vroeg reeds begin posisioneer om in aanmerking te kom vir die wapenaankope wat Suid-Afrika beoog het.
Die staat voer aan dit was vir Thomson-CSF belangrik om bemagtigingsvennote te kies wat die ANC-leierskap se goedkeuring wegdra. 'n Ooreenkoms is in 1996 tussen Thomson-CSF en Nkobi gesluit voordat hulle bewus was van Altech Defence Systems, waarvan die naam later na African Defence Systems (ADS) verander is.
Shaik het na bewering reeds in 1996 tydens 'n bosberaad aan ander Nkobi-direkteurs gesê die groep moet hom posisioneer om deel te wees van die tender vir die vloot se nuwe korvette. Hy het nie hul gebrek aan kundigheid as 'n probleem beskou nie. Luidens die klagstaat is die indruk geskep dat Shaik sy politieke kontakte sou gebruik om hul tender te bevorder.
Luidens die klagstaat het Thomson-CSF getwyfel oor die toepaslikheid van Nkobi as Suid-Afrikaanse vennoot omdat Nkobi glo nie Mbeki se goedkeuring weggedra het nie. Thomson-CSF het vyf maande ná 'n regeringsversoek vir voorleggings oor die wapenpakket aandele in ADS gekoop.
Binne weke ná die ADS-ooreenkoms is mnr. Jean-Paul Perrier, hoof van Thomson-CSF Internasionaal, glo ingelig Zuma wil met hom vergader oor Mbeki se siening van Nkobi.
Vier maande later het mnr. Chippy Shaik, die regering se destydse hoof van wapenaankope en broer van die sakeman, na bewering aan 'n verteenwoordiger van Thomson-CSF gesê hy sal sake vir die Franse fasiliteer as hul vennote hom welgeval. Andersins sal hy dinge vir hulle moeilik maak, het mnr. Chippy Shaik glo luidens die klagstaat gesê.
In die uitgerekte proses om Nkobi se uitsluiting van die Thomson-korvetvoorstel reg te stel het Zuma na bewering op 2 Julie 1998 'n hooggeplaaste van Thomson in Londen ontmoet.
Die tender van ADS, deel van 'n Europese konsortium, om wapenstelsels vir die korvette te verskaf was R1,3 miljard werd. Hiervan sou ADS self R450 miljoen betaal word en die res aan subkontrakteurs.
Op 18 November 1998, toe bekend gemaak is dat die Europese konsortium die voorkeurtenderaar vir die korvette is, het Zuma luidens die klagstaat 'n vergadering in Durban bygewoon waar die verkoop van 10% van Thomson se aandeel in ADS aan Nkobi bespreek is.
Bewerings oor onreëlmatighede met wapenaankope het 'n jaar later begin kop uitsteek. Mnr. Alain Thetard, direkteur van Thomson-CSF (Suider-Afrika), het Zuma en Shaik op 11 Maart 2000 in Durban ontmoet.
Luidens 'n gekodeerde faks wat Thetard ná die ontmoeting aan Thomson-CSF Internasionaal gestuur het, het Zuma na bewering met 'n kode ingestem om Thomson-CSF tydens die ondersoek te beskerm en in toekomstige projekte te steun.
In ruil hiervoor sou Thomson-CSF Zuma R500 000 per jaar betaal totdat ADS dividende betaal, wat uiteindelik neergekom het op R1 miljoen.
Nkobi het in 2000 'n "diensverskafferooreenkoms" met Thomson-CSF opgestel waarvan die waarde uiteindelik R1 miljoen beloop het. Luidens die klagstaat is die enigste rekord van 'n diens gelewer twee Nkobi-briewe oor teenhandelregulasies en -projekte wat met die wapenpakket verband hou.
In Thales, die nuwe naam van Thomson-CSF, se boeke in Mauritius is die geld luidens die klagstaat aangeteken as "lobbying fees, Afrique du Sud Kobifin ('n Nkobi-filiaal)".
Op 19 Januarie 2001 het Zuma as leier van regeringsake in die parlement aan mnr. Gavin Woods, destydse IVP-voorsitter van die staande komitee oor openbare rekenings, geskryf "ons is oortuig daarvan dat daar geen behoefte is aan 'n ondersoek deur die Heath-eenheid na die wapenpakket nie".
"Ons hoop hierdie vreemde toedrag van sake is nie gedrewe deur 'n versugting om die uitvoerende gesag tot elke prys skuldig te bevind op grond van die aanname dat dit geneig is tot korrupsie en oneerlikheid nie," lui die brief voorts.
Probleme is glo ondervind met die betaling van Thomson-CSF terwyl Zuma in Junie 2000 'n tradisionele Zoeloe-dorpie van R1,3 miljoen by sy tuiste in Nkandla, Zoeloeland, laat bou het.
Die werk is gedoen deur mnr. Eric Malengret, eienaar van Eric's Industrial Plumbing and Building.
Luidens die klagstaat is die beweerde omkoopgeld uiteindelik glo deur Shaik, Malengret en/of die Durbanse sakeman mnr. Vathasallum Reddy gekanaliseer.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.