Party Krabbel Terug : Optrede 'Sal Kom as Daar Bewyse van Bedrog is' |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-28 |
Reporter |
Willem Jordaan |
Web Link |
Kaapstad. - Nadat hy vroeër gesê het adj.pres. Jacob Zuma is "vrygespreek" deur die Skerpioene se besluit om hom nie te vervolg nie, het die ANC gister teruggekrabbel. Die regerende party het gesê die moontlikheid van tugstappe kan nie uitgesluit word nie.
Mnr. Smuts Ngonyama, die ANC se kommunikasiehoof, het aan Die Burger gesê die ANC sal "blitsvinnig" optree indien Zuma deur 'n hof of 'n ander instelling skuldig bevind word aan korrupsie of ongerymdhede.
Ngonyama het vroeër gesê die Skerpioene se besluit om Zuma nie te vervolg nie, het die adjunkpresident "heeltemal vrygespreek" en dat daar "geen sprake van tugoptrede" kan wees nie.
Hy het egter gister toegegee tugstappe sal wel volg as bewyse van ongerymdhede gevind word. Dít kan ter sprake kom in 'n moontlike ondersoek van die parlement se komitee oor etiek en ledebelang om te bepaal of Zuma die "geskenke" van meer as R1 miljoen wat hy na bewering van mnr. Schabir Shaikh of sy maatskappye ontvang het, in die belangeregister verklaar het.
Die Skerpioene wou ook nie die moontlikheid uitsluit dat Zuma wel later vervolg kan word in die lig van nuwe bewyse nie.
Me. Carol Johnson, NNP-woordvoerder oor justisie, het gesê die wetlike posisie is dat Zuma onskuldig is totdat hy skuldig bewys is, maar die morele posisie is 'n ander saak. "Daar kom 'n tyd in 'n openbare figuur se lewe wat die regte optrede vereis, en dié tyd het vir Zuma aangebreek," het sy gesê.
"Nog bewerings teen hom maak die situasie onhoudbaar. Die NNP doen 'n beroep op hom om sy pos tydelik te ontruim."
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF, het gesê die wapenaankope is reeds deur die parlement, die ouditeur-generaal en die Skerpioene ondersoek sonder dat bevredigende antwoorde verskaf is. Daarom moet 'n regterlike kommissie van ondersoek aangestel word om die saak op te klaar.
Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.