Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-08-28 Reporter: Willem Jordaan

Mbeki Keer Terug na Krisis in Party

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-08-28

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Kaapstad. - Pres. Thabo Mbeki het gisteraand uit Dar es Salaam teruggekeer na 'n krisis wat deur sy eie party beskryf is as " 'n ongemaklike situasie vir Suid-Afrika" - die storm wat woed om die kop van adj.pres. Jacob Zuma en die bewerings van korrupsie teen hom.

Nadat Mbeki nog geen woord oor dié kwessie gerep het nadat die bewerings Maandag op die lappe gekom het nie, maak hy vandag sy eerste openbare verskyning op Suid-Afrikaanse bodem. Hy spreek vandag die konferensie van die ANC-vroueliga in Gauteng toe.

Ook Zuma, wat tot dusver slegs in 'n verklaring sy onskuld herhaal het, moet vandag die publiek in die oë kyk wanneer hy die gemeenskap van Ngwavuma in KwaZulu-Natal toespreek.

Uit 'n betroubare bron is verneem diep verdeeldheid heers in die ANC en die kabinet oor hoe die bewerings oor Zuma gehanteer moet word.

Hoës in die ANC, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, meen Zuma moet terugstaan as adjunkpresident totdat sy naam skoon is. Ander glo die Skerpioene voer 'n kwaadwillige en polities gemotiveerde veldtog om Zuma te ontsetel voor die verkiesing in 2004.

Te midde van dié verdeeldheid neem Mbeki vandag die leisels by Zuma oor wat in sy afwesigheid waargeneem het.

Intussen oefen opposisiepartye kwaai druk op Mbeki uit om vinnig besluite te neem. Die DA het 'n forensiese ondersoek na die ANC se geldsake gevra, terwyl die VF 'n regterlike kommissie van ondersoek wil hê. Die NNP meen Zuma moet sy pos tydelik ontruim.

Die ANC hou egter vol daar is geen rede vir Zuma om te bedank nie.

Ofskoon mnr. Smuts Ngonyama, ANC-kommunikasiehoof, in 'n verklaring die situasie as "ongemaklik vir Suid-Afrika" beskryf het, het hy benadruk Zuma sal nie bedank in die afwesigheid van bewyse van korrupsie of ongerymdhede nie.

Naas die openbare druk word Zuma in die gesig gestaar deur 'n moontlike ondersoek van die parlement se komitee oor etiek en ledebelange. Die Skerpioene het vroeër te kenne gegee dat besonderhede van "geskenke" van meer as R1 miljoen wat Zuma na bewering van mnr. Schabir Shaikh of sy maatskappye ontvang het, vir verdere ondersoek na die parlement verwys sal word. Hullehet ook nie die moontlikheid uitgesluit dat Zuma wel vervolg sal word as nog bewyse aan die lig kom nie.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.