Publication: Beeld Issued: Date: 2003-08-11 Reporter: Erika Gibson

Lekota Gekap Oor Min Beheer

 

Publication 

Beeld

Date 2003-08-11

Reporter

Erika Gibson

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Die aankoop van motors - selfs teen afslagpryse - deur senior offisiere en amptenare in die departement van verdediging is 'n "private aangeleentheid" waaroor die ministerie van verdediging geen beheer het nie.

Boonop bestaan daar geen data sedert Januarie 2001 oor dié mense se motortransaksies nie.

Mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, het só gereageer op 'n onlangse skriftelike vraag van mnr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront oor die afslag wat verskeie hooggeplaastes in dié departement in die aanloop tot die multimiljoenrand-wapentransaksie en daarna gekry het.

Volgens Groenewald beteken dit dat Lekota geen beheer of insae het wanneer sy senior offisiere of beamptes motors of afslag op motors "vir gunste" of wapenkontrakte kry nie.

Verskeie van dié mense, onder wie genl. Siphiwe Nyanda, weermaghoof, en lt.genl. Roelf Beukes, lugmaghoof, was vroeër op die lys van 30 hooggeplaastes wat glo afslag van die European Aeronautic Defence and Space Company (Eads) deur sy sustermaatskappy DaimlerChrysler SA verkry het.

Volgens Groenewald skep dié gebrek aan beheer oor moontlike onregmatige voordele die geleentheid vir korrupsie.

Volgens Lekota is die finansiering van motors sedert Januarie 2001 nie meer deel van senior amptenare/offisiere se vergoedingspakket nie en moet hulle dit self reël.

Toevallig was dit later dieselfde jaar dat die kabaal oor die 30 mense se afslag ter sprake gekom het.

Mnr. Tony Yengeni, voormalige hoofsweep van die ANC en een van die 30, is later skuldig bevind omdat hy gelieg het oor die wyse waarop hy sy luukse motor aangeskaf het.

Mnr. Vanan Pillay van die departement van handel en nywerheid, wat ook met dié transaksies gewerk het, is ná 'n interne verhoor daaraan skuldig bevind dat hy die departement se gedragskode oortree het omdat hy afslag van meer as R50 000 op 'n motor van Eads gekry het.

Daar is bevind dat Pillay sy posisie misbruik het om die afslag te bekom en hy is later ontslaan.

Prof. Stan Sangweni, voorsitter van die Staatsdienskommissie, het toe gesê elke minister moet besluit of die geskenke, gunste en afslagmotors wat sy amptenare ontvang, binne perke is.

Sangweni het gesê elke staatsdepartement moet jaarliks 'n opgawe van geskenke en gawes indien waarin sodanige afslag ook verklaar moet word.

Volgens Groenewald is daar geen rede waarom die departement van verdediging nie só 'n register het nie terwyl dit van ander staatsdepartemente verwag word.

Met erkenning aan Erika Gibson en die Beeld.