Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-08-05 Reporter: Anesca Smith

Ngcuka Behou Sy Luukse BMW

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-08-05

Reporter

Anesca Smith

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Kaapstad - Die staat gaan nie beslag lê op die direkteur van openbare vervolging, adv. Bulelani Ngcuka, se luukse BMW nie.

Ngcuka, wat vandeesweek by 'n openbare woordestryd met adj. pres. Jacob Zuma betrek is oor die Skerpioene se ondersoek na die wapenskandaal, het hom die naweek weer in die kollig bevind toe berig is dat hy nou sy duur motor kwyt is.

Hy het glo opdrag gekry om sy BMW 750 van R874 000 aan die departement van justisie te oorhandig omdat sy kontrak nie voorsiening maak vir 'n motortoelae nie.

'n Woordvoerder van justisie, mnr. Paul Setsetse, het egter aan Die Burger erken dat 'n administratiewe fout gemaak is en dat die bepalings in die kontrak waaraan Ngcuka die afgelope vyf jaar onderworpe is, onduidelik is wat 'n motortoelae betref.

"Ons gaan egter nie beslag lê op sy motor of 'n rekening aan hom stuur oor die geld wat hy gebruik het om die motor te koop nie. Daar is nog nie finaal besluit vir watter bedrag Ngcuka in aanmerking kom wat 'n motortoelae betref nie."

Setsetse het ook bespiegelings dat Ngcuka ná die afgelope week se gebeure uit sy hoëprofiel-pos gedwing kan word, ontken. "Die departement is tevrede met sy werk," het Setsetse gesê.

Die Skerpioene se woordvoerder, mnr. Sipho Ngwema, het egter Sondag gesê Ngcuka het reeds vier jaar gelede die betrokke motor aan die staat verkoop. "Trouens, sedert Mei verlede jaar ry hy 'n BMW 745 wat hy uit sy eie sak gekoop het."

Volgens Ngwema is Ngcuka reeds vier jaar gelede nadat hy die BMW 750 gekoop het, ingelig dat hy oorbestee het daaraan en die verskil aan die staat moes terugbetaal.

"Ons wag egter steeds op 'n rekening van justisie."

Met erkenning aan Anesca Smith en Die Burger.