Maatskappyewet se Vereistes Streng |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-28 |
Reporter |
Willem Jordaan |
Web Link |
Kaapstad - Adj.pres. Jacob Zuma en die ANC sou ingevolge die Maatskappyewet aan streng voorwaardes voldoen om via 'n benoemde mens aandele in die Nkobi-groep te besit.
Luidens die klagstaat wat Maan dag ingedien is teen mnr. Schabir Shaikh, Zuma se finansiële raadgewer, was Zuma op dié manier 'n geheime aandeelhouer in die Nkobi-groep. Zuma het glo sedert die stigting van die Nkobi-groep 'n aandeel deur 'n benoemde besit en só sy identiteit beskerm.
Die ANC het na bewering ook op dié manier 'n aandeel in Nkobi - een van die maatskappye wat geraak word deur omkoopbewerings en deel van 'n konsortium wat 'n R1,3 miljard-deel van die korvetkontrak van die wapentransaksie bekom het.
Die Maatskappyewet vereis onder meer dat die nominerende aandeelhouer sy identiteit moet verklaar in 'n register wat op aanvraag nagegaan kan word.
Teen gisteraand kon Die Burger nie vasstel of Zuma en die ANC aan dié vereistes voldoen het nie.
Nog 'n kwessie wat deur die Skerpioene geopper is, is of Zuma voldoen het aan die parlement se etiese kode wat vereis dat LP's hul belange verklaar. Wanneer inligting hieroor na die parlement verwys word, sal die komitee oor etiek en ledebelang moet vasstel of Zuma die voordele verklaar het.
Ofskoon Zuma na bewering reeds sedert 1995 bepaalde voordele ontvang het, sal die komitee nie kan ondersoek instel na voordele ontvang voor Junie 1999 nie, omdat Zuma toe eers lid van die parlement geword het.
Die omstrede vernietiging van dokumente wat onder die belangeregister se vertroulike deel, sal na verneem word nie 'n ondersoek na of Zuma sy belange verklaar het, raak nie. Net dokumente voor die 1999-verkiesing is versnipper.
Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.