Zuma, Ngcuka in Lelike Politieke Moddergeveg |
Publication | Cape Times |
Date | 2003-08-03 |
Reporter |
Pieter Malan |
Web Link |
Die ondersoek na adj. pres. Jacob Zuma se beweerde betrokkenheid by die wapenskandaal het die afgelope week die wind van voor gekry toe ‘n lys van meer as dertig vrae oor Zuma se aandeel in die transaksie, asook baie spesifieke vrae oor die adjunkpresident se finansiële doen en late die afgelope paar jaar, uitgelek het.
Die vrae, en veral die feit dat dit aan die media laat val is, het ‘n politieke stryd in ANC-geledere ontketen wat veral sentreer om die hooffigure in die drama - die direkteur van nasionale vervolging, adv. Bulelani Ngcuka, en Zuma. Dit is te vroeg om te sê ten gunste van wie die pendulum uiteindelik gaan swaai, maar moeilik om te glo dat hulle albei ongeskonde uit die stryd gaan tree.
Die leierskap van Ngcuka, voormalige UDM-aktivis en senior ANC-lid, van die regering se beste wapen teen korrupsie en georganiseerde misdaad, die Skerpioene, het tot dusver bewondering by vriend en vyand afgedwing - veral ná sy suksesvolle vervolging van ANC-swaargewigte soos Winnie Madikizela-Mandela en Tony Yengeni.
Die Skerpioene se ondersoek teen Zuma, hul mees ambisieuse projek tot op hede, het egter nou vasgeval in ‘n lelike politieke moddergeveg met die land se tweede burger, algemeen bekend as ‘n uitgeslape politieke teenstander.
Die dramatiese week het begin met die publikasie van uitgelekte vrae wat die Skerpioene aan Zuma gestel het. Die buitengewone gebeure wat daarop gevolg het, sluit in:
Maandag : Ngcuka ontken dat die Skerpioene die Zuma-vrae aan die Sunday Times laat uitlek het. Die implikasie van sy uitspraak is duidelik - dit was Zuma self wat vir die lekkasie verantwoordelik was, blykbaar om die Skerpioene en hul ondersoekmetodes in die verleentheid te stel.
Dinsdag : Pres. Thabo Mbeki verklaar, in antwoord op ‘n vraag oor ‘n tweestryd tussen die Skerpioene en die polisie, dat die antwoord op dié onmin is dat die Skerpioene moontlik deel kan word van die polisie;
Woensdag : Zuma reik ‘n verklaring uit waarin hy sê dat dit nie die eerste keer is dat inligting rakende die wapenondersoek aan die media laat val word nie. Hy maak ook kapsie teen die feit dat baie van die vrae inbreuk maak oop sy privaatheid. Hy voer aan dat die Skerpioene geen keerdatum vir sy antwoorde gestel het nie en dat hy sal antwoord "so gou dit hom pas".
Dit word bekend dat adv. Gerda Ferreira, aanklaer van die Skerpioene verantwoordelik vir Yengeni se skuldigbevinding en ook vir die Zuma-ondersoek, bedank en ‘n pos in die private sektor aanvaar het. Mnr. Sipho Ngwema, die Skerpioene se woordvoerder, sê egter sy sal eers die ondersoek na die adjunkpresident afhandel voordat sy vertrek.
Donderdag : Die ANC, by monde van die party se sekretaris-generaal, mnr. Kgalema Mothlante, sê die party is baie ongelukkig oor die manier waarop inligting oor ondersoeke van die Skerpioene in die media uitgelap word en ook oor die manier waarop aangekondig word dat ondersoek ingestel word na individue sonder dat die ondersoek ooit lei tot ‘n hofsaak.
Die druk op Ngcuka is ook duidelik uit ‘n e-pos-boodskap wat reeds sowat twee weke onder joernaliste die ronde doen. Dié boodskap, kamstig geskryf deur een van die Skerpioene se werknemers, word deur Ngcuka self bestempel as ‘n smeerveldtog deur "misdadige kamerade". Dis gestuur van ‘n Yahoo-internetadres (wat moeilik naspeurbaar is) en bevat die mees lasterlike aantygings oor onder meer Ngcuka se sekslewe. Dit het al die tekens van ‘n smeerveldtog - moeilik verifieerbare aantygings wat uiteindelik die integriteit van ‘n slagoffer ondermyn.
Die betrokkenhied van die voormalige minister van vervoer, mnr. Mac Maharaj, het die politieke druk waaronder Ngcuka verkeer verder benadruk.
Maharaj, tans ‘n nie-uitvoerende direktuer van die bankgroep First Rand, is ook in die onlangse verlede by korrupsie-ondersoeke betrek ná berigte dat hy na bewering ‘n groot bedrag geld van Schabir Shaik, die Durbanse sakeman wat ‘n aandeel het in die N3-tolpadkonsessie, ontvang het. Die Skerpioene is ook besig om Shaik se beweerde aandeel in die wapenskandaal te ondersoek. Shaik is ook Zuma se finansiële raadgewer en bestempel homself as ‘n "intieme vriend" van die adjunkpresident.
Maharaj het Donderdag ‘n klag by die polisie ingedien nadat inligting rakende die Skerpione se ondersoek na hom en sy vrou blykbaar aan die Johannesburgse dagblad The Star bekend gemaak is.
Volgens Sapa het ‘n joernalis by dié koerant Maharaj Donderdag genader om kommentaar nadat hy by ‘n bron in die Skerpioene gehoor het hat Maharaj se vrou, Zarina, na bewering op belastingklagte in hegtenis geneem sou word.
Maharaj sê nadat Ngcuka en die minister van justisie, dr. Penuell Maduna, hom verseker het dat daar nie sprake is day sy vrou in hegtenis geneem gaan word nie het hy besluit om ‘n klag by die polisie in te dien.
The Star het uiteindelik besluit om nie die berig te publiseer nie.
Maharaj sê die bron in die Skerpioene misbruik sy posisie en "moet geïdentifiseer, ondersoek en aangekla word".
Teen Vrydag was dit duidelik dat die Skerpioene taamlik vuisvoos gelaat is deur die week se gebeure en het hul woordvoerder, mnr. Sipho Ngwema, dit duidelik gemaak dat hy nie meer gaan kommentaar lewer op "enigiets" rakende die Zuma-ondersoek of enige gissings oor die toekoms van die eenheid nie.
Sover vasgestel kon word, het Zuma nog nie gereageer op die vrae wat die Skerpioene aan hom gestel het nie.
Met erkenning aan Pieter Malan en die Rapport.