Cyril sê Hy Wil Nie Bemiddel |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-18 |
Reporter |
Barnie Louw, Sapa |
Web Link |
Kaapstad - Mnr. Cyril Ramaphosa, ANC-swaargewig en grondwetonderhandelaar, het besluit om geen rol te speel in die sage tussen die Skerpioene, adj.pres. Jacob Zuma, Zuma se persoonlike finansiële adviseur, mnr. Schabir Shaikh, en mnr. Mac Maharaj, voormalige minister van vervoer, nie.
Ramaphosa het gisteraand in 'n verklaring gesê hy het die besluit geneem ná 'n gesprek met adv. Bulelani Ngcuka, hoof van die nasionale vervolgingsgesag en die Skerpioene.
Opposisiepartye het gister se oënskynlike bemiddelingsvergadering tussen Ramaphosa en Ngcuka veroordeel.
Die vergadering was volgens die Sunday Times enersyds glo om die onlangse onverkwiklikhede oor die Skerpioene se ondersoeke na Zuma, Shaikh en Maharaj uit die weg te ruim. Andersyds was dit glo 'n poging om 'n moontlike pleitskikking vir die drie te beding.
Politieke ontleders het gesê die toetrede van Ramaphosa, 'n voormalige sekretaris-generaal van die ANC, tot die Skerpioene se ondersoek teen Zuma, Shaikh en Maharaj, is 'n verrassende wending wat daarop dui dat die ondersoek verreikende politieke implikasies sal hê, berig Adrian Lackay .
Ramaphosa het gesê hy het besluit om geen rol te speel nie omdat hy glo al die nodige meganismes, wetlik en andersins, om die verskillende kwessies op te los, is beskikbaar. Hy het bevestig hy is gevra om die kwessie te help oplos.
"Toe ek aanvanklik genader is, het ek gesê dat ek eers moet verstaan wat die kwessies en die voorwaardes van die proses is voordat ek betrokke raak.
"Ek het ook gesê dat ek met die ANC moes oorleg pleeg."
Ondanks gerugte twee jaar gelede oor 'n beweerde komplot teen pres. Thabo Mbeki - waarby Ramaphosa betrek is - is Ramaphosa verlede jaar met die naasmeeste stemme verkies in die party se nasionale uitvoerende komitee.
Gister se vergadering het plaasgevind te midde van onsekerheid oor wie vir Ramaphosa die mandaat gegee het om met Ngcuka te vergader.
Mnr. Smuts Ngonyama, ANC-woordvoerder, het gesê die party se nasionale werkkomitee het nie vir Ramaphosa 'n mandaat gegee nie. Mnr. Bheki Khumalo, presidensiële woordvoerder, het gesê hy is nie daarvan bewus dat die president vir Ramaphosa 'n mandaat gegee het nie.
Mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die Skerpioene, het bevestig die vergadering het plaasgevind, maar wou niks meer sê nie. Shaikh en Maharaj was ook glo verras deur 'n aanbod dat bemiddeling plaasvind en het toe daarop aangedring dat Ramaphosa betrokke raak omdat hulle hom vertrou.
Volgens mnr. Paul Setsetse, woordvoerder van die minister van justisie, is daar wetlik niks mee verkeerd as 'n individu met die nasionale vervolgingsgesag praat nie.
Met erkenning aan Barnie Louw, Sapa en Die Burger.