Skerpioene Kan Zuma 'Nie Vervolg' |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-18 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Johannesburg. - Die Skerpioene het glo nie genoeg inligting om adj.pres. Jacob Zuma óf mnr. Mac Maharaj, gewese minister van vervoer, te vervolg nie.
Dié elite-ondersoekeenheid het ook nie 'n rotsvaste saak teen mnr. Schabir Shaikh, Durbanse sakeman en Zuma se persoonlike finansiële raadgewer, nie.
Dié onthullings is gister gemaak deur mnr. Dirk Hartford, uitvoerende hoof van Yfm.
Die Burger het verneem dat Hartford 'n rol gespeel het om die Skerpioene en verteenwoordigers van Shaikh, Zuma en Maharaj bymekaar te bring.
Nog inligting kan onthul word:
'n Gesprek het tussen Hartford, mnr. Ivor Powell van die Skerpioene en Shaikh se broer Yunis plaasgevind om die stand van die ondersoeke te bespreek.
Powell het glo in dié gesprek gesê die Skerpioene het nie genoeg inligting om Zuma en Maharaj te vervolg nie.
Powell het mnr. Cyril Ramaphosa voorgestel as 'n geskikte persoon om verdere gesprekke aan te voor.
'n Vergadering tussen Ramaphosa en die verskillende partye is vir Vrydag 8 Augustus belê, maar die Skerpioene nie opgedaag het nie.
Volgens Hartford ken hy "toevallig" vir Powell en mnr. Yunis Shaikh en wou hy hê die "ou comrades" moet met mekaar praat. "Ek het die gesprek voorgestel as 'n derde party en 'n bekommerde gewone Suid-Afrikaner."
Die Sunday Times het berig dat Ramaphosa, 'n voormalige sekretaris-generaal van die ANC, genader is om die Skerpioene in hul gesprekke met Zuma, Shaikh en Maharaj by te staan.
Ramaphosa het egter Sondag gesê hy het besluit om geen rol in dié ondersoeke te speel nie ná 'n gesprek met adv. Bulelani Ngcuka, hoof van die nasionale vervolgingsgesag en die Skerpioene.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.