Publication: Rapport Issued: Date: 2003-08-31 Reporter: Pieter Malan, Eugene Gunning

Zuma was Beskuldigde Nr. 3 : Naam van Klagstaat Gehaal

 

Publication 

Rapport

Date 2003-08-31

Reporter

Pieter Malan, Eugene Gunning

Web Link

www.news24.com/Rapport/

 

Die naam van adj.pres. Jacob Zuma is verlede naweek ter elfder ure as een van die beskuldigdes van die klagstaat in die Schabir Shaik-saak verwyder.

Tot kort voor die nuuskonferensie in Pretoria verlede Saterdag waar aangekondig is dat Zuma nie vervolg gaan word nie was ondersoekers in die saak nog oortuig dat die adjunkpresident wel vervolg gaan word.

Op die nuuskonferensie het die direkteur van openbare vervolging, adv. Bulelani Ngcuka, in 'n ongewone stap gesê daar is besluit om nie die adjunkpresident te vervolg nie omdat "ons nie seker is dat die saak teen hom gewen kan word nie".

Ngcuka het bygevoeg dat die ondersoekspan wel aanbeveel het dat Zuma vervolg word.

Ná Ngcuka se aankondiging het aanklaers die hele naweek deur gewerk om alle verwysings na Zuma - wat as beskuldigde nr. 3 op die oorspronklike klagstaat aangedui is - te verwyder. In hul haas het een so 'n verwysing egter deurgeglip en in die herskrewe klagstaat, wat Maandag deel van die openbare verslag geword het, is daar 'n verwysing na iemand wat "omhels word deur beskuldigde 3". Beskuldigde nr. 3 in die nuwe klagstaat is Nkobi Investments - 'n onderneming wat klaarblyklik nie 'n mens kan omhels nie.

Bronne na aan die ondersoek het Vrydag bevestig dat beskuldigde nr. 3 inderdaad Zuma was en dat die fout verlede Sondag in die haastige herskryf van die klagstaat ingesluip het.

Die besluit om Zuma nie te vervolg nie maak opslae, veral omdat daar in die klagstaat duidelike aanduidings is dat hy sy politieke invloed gebruik het om Shaik se saketransaksies te bevorder.

Ondanks die amptelike ANC-standpunt dat Zuma onskuldig is totdat 'n hof hom skuldig bevind en daarom toegelaat sal word om in sy pos aan te bly, sê sommige ANC-LP's die situasie is onhoudbaar.

"Die saak teen Zuma is sterker as wat die saak teen Allan Boesak was en kyk wat het met Boesak gebeur," het een senior LP die afgelope week aan Rapport gesê.

Luidens die klagstaat het Shaik en/of die Nkobi-groep tussen Oktober 1995 en September verlede jaar meer as R1,16 miljoen aan Zuma betaal.

Volgens parlementêre reëls moes Zuma alle geskenke wat hy ontvang het sedert hy op 17 Junie 1999 parlementslid geword het, verklaar het.

Mense wat die laaste paar jaar met mnr. Schabir Shaik in aanraking gekom het, sê hy het selde 'n geleentheid laat verbygaan om aan moontlike sakevennote te vertel hoe goed sy politieke verbintenisse is en wat met hulle sal gebeur as hulle nie met hom saamwerk nie.

Prof. Temba Sono, lid van die Gautengse wetgewer vir die nuutgestigte Onafhanklike Demokrate, was tussen 1996 en Januarie 1997 direksielid van Nkobi voordat hy uit dié pos bedank het uit ontevredenheid oor die manier waarop Shaik sake doen.

"Ek het aanvanklik gemeen ek raak betrokke by 'n onderneming, nie 'n kwasi-politieke organisasie wat in die sakewêreld opereer nie. Hy was gedurig besig om die name te noem van prominente politieke figure wat sy vriende was - die Joe Modises, die Jacob Zumas, die Mac Maharaje. Veral mense wat prominent was in KwaZulu-Natal."

Sono sê dit was nie lank voordat Nkobi se internasionale vennote by hom (Sono) gekla het oor die manier waarop Shaik optree nie.

Hy sê die besturende direkteur van die Amerikaanse maatskappy Brown and Root was een van die maatskappye wat aan hom (Sono) gesê het hy "hou nie daarvan om dié soort goed te doen nie". Daar is na bewering van Brown and Root verwag om vir 'n vakansie vir Maharaj in Disneyland in Amerika te betaal.

Hy sê Shaik het reeds in 1996 aan almal wat wou hoor, vertel dat sy maatskappy gaan tender vir die korvette se wapenstelsel.

Prof. John Lennon van die Glasgow Caledonian-universiteit in Skotland het ook in die laat jare negentig met Shaik te doen gekry in 'n stadium wat daar sprake was dat Lennon saam met Nkobi 'n toerisme-opleidingskool in KwaZulu-Natal sou begin. (Lees berig hierby.)

Lennon sê hoewel hy Shaik net vlugtig ontmoet het, het Shaik baie gou in briewe 'n dreigende houding aangeneem.

"Hy het een minagtende brief aan my geskryf waarin hy sê dat ek sus en so binne 24 uur moet doen. Ek het dit net gë?gnoreer."

Lennon sê hy het niks weer van Shaik gehoor totdat die Skerpioene hom vroeër vanjaar oor hul verhouding begin uitvra het nie.

Met erkenning aan Pieter Malan, Eugene Gunning en Rapport.