Publication: Beeld Issued: Date: 2003-09-07 Reporter: Sonja Carstens

OB Wag Nog vir Zuma se Klag

 

Publication 

Beeld

Date 2003-09-07

Reporter

Sonja Carstens

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Die openbare beskermer (OB) wag vir adj.pres. Jacob Zuma om 'n klag teen adv. Bulelani Ngcuka, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV), in te dien voordat hy kan besluit of dié kantoor 'n mandaat het om dit te ondersoek.

Me. Nicolette Teichmann, woordvoerder van die OB, het Sondag gesê hulle het nog nie 'n klag van Zuma ontvang nie.

Zuma het verlede week in 'n eedsverklaring, wat by die Pretoriase hooggeregshof ingedien is, gesê hy beoog om 'n klag teen Ngcuka in te dien weens beweerde "growwe misbruik van openbare mag".

Volgens Zuma het Ngcuka hom gestroop van sy reg om hom in 'n hof te verdedig deur te weier om hom te vervolg, maar vol te hou dat daar 'n prima facie-saak teen hom is.

Dit kom nadat regslui verlede week gesê het dit is "skrikwekkend" dat Zuma nie saam met mnr. Schabir Shaik, sy finansiële raadgewer, in die Durbanse streekhof teregstaan op aanklagte van korrupsie, diefstal en bedrog nie.

Volgens hulle sal die staat ongetwyfeld 'n saak teen Zuma kan bewys as die bewerings in die klagstaat teen Shaik bewys kan word.

Mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die NV, het gesê Ngcuka sal hom verdedig teen enige aantygings wat Zuma by die OB doen.

"Ngcuka het reeds twee weke gelede gesê waarom Zuma nie vervolg word nie en staan by daardie redes. Daar is 'n prima facie-saak, maar nie noodwendig 'n saak wat in 'n hof gewen kan word nie."

Volgens Ngwema het Ngcuka die Zuma-sage deurgaans professioneel gehanteer. "Die NV is trots op Ngcuka se hantering van die saak. Dit is die NV se besluit of daar vervolg word met die feite tot sy beskikking."

Die NV dien na verwagting vandag sy repliek op Zuma se eedsverklaring by die hooggeregshof in.

Met erkenning aan Sonja Carstens en die Beeld.