Ramaphosa en Ngcuka se Gesprek is Onbehoorlik, sê DA |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-17 |
Reporter |
Barnie Louw |
Web Link |
KAAPSTAD. - Mnr. Cyril Ramaphosa se gesprek gister met adv. Bulelani Ngcuka, die hoof van die nasionale vervolgingsgesag en die Skerpioene, is "totaal onbehoorlik, parmantig en die mees ontoepaslike politieke inmenging wat ons nog gesien het".
Volgens die amptelike opposisie is dié stap 'n duidelike poging van die ANC om in te meng in die onafhanklikheid van die vervolgingsgesag.
Mnr. Hendrik Schmidt, DA-woordvoerder oor korrupsie, het gister gesê Ramaphosa se toetrede tot die geskil wys hoe desperaat die ANC is om sy eie beeld te red.
Luidens berigte was die doel van die vergadering om enersyds die onverkwiklikhede tussen die Skerpioene en hooggeplaastes uit die weg te ruim, en andersyds glo ook om 'n moontlike pleitskikking te beding vir mnr. Jacob Zuma, adjunkpresident, sy persoonlike finansiële adviseur, mnr. Schabir Shaikh, en mnr. Mac Maharaj, voormalige minister van vervoer.
Volgens Schmidt het die vervolgingsgesag 'n grondwetlike plig om heeltemal onafhanklik te bly van die regerende party en sy grille.
"Óf Ramaphosa is afgevaardig om Ngcuka in die pas te bring met die ANC se belange, óf dit is 'n poging om die ANC te red van verdere vernedering en skade," het Schmidt gesê.
Hy het gevra dat pres. Thabo Mbeki ingryp om die onafhanklikheid van die vervolgingsgesag te verseker.
Adv. Carol Johnson, NNP-woordvoerder oor justisie, het gesê Ramaphosa se betrokkenheid is ongevraag en sal tot aantygings van politieke inmengery in die ondersoek lei.
"Dit is in niemand se belang om nou 'n buitestander in te roep om as bemiddelaar op te tree en 'n moontlike skikking te probeer bereik nie," het Johnson gesê.
Sy het gesê die Skerpioene moet toegelaat word om die ondersoek ongehinderd te voltooi, sonder die vrees van inmenging, intimidasie of bemiddelingspogings deur buitestanders.
" 'n Bemiddelingsproses wat met geslote deure plaasvind, sal die beginsels van onafhanklikheid en onpartydigheid ondermyn en 'n skikking wat só bereik word, sal uiteindelik daartoe lei dat die geloofwaardigheid en legitimiteit van die ondersoek bevraagteken word," het sy gesê.
Volgens mnr. Cassie Aucamp, medeleier van die NA, is 'n deeglike ondersoek na die bewerings oor Zuma nodig.
As die betrokke ondersoek nie op die normale manier afgehandel word nie, sal daar altyd 'n wolk van agterdog oor Zuma hang.
Met erkenning aan Barnie Louw en Die Burger.