Ondersoek Dit |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-26 |
Web Link |
Die geval Jacob Zuma kan vir Suid-Afrika vorentoe ernstige gevolge inhou. Daar is volgens adv. Bulelani Ngcuka die openbare vervolger, glo prima facie-getuienis van korrupsie teen die adjunkpresident, maar die saak is nie sterk genoeg dat dit in die hof gewen kan word nie - 'n besonder vreemde redenering, om die minste daarvan te sê.
Dit is in Suid-Afrika se belang dat die saak met bekwame spoed beredder word. Maar dan só dat die volle waarheid uitkom en nie toegesmeer word nie.
Daarom is twee stappe nodig.
Heel eerste moet pres. Thabo Mbeki sy adjunk van al sy funksies losmaak, sonder dat hy noodwendig formeel afgedank word. Indien bevind word dat Zuma onskuldig is, kan hy weer sy funksies opneem.
Dit is naamlik nodig sodat die gehalte van die Suid-Afrikaanse demokrasie, wat deur die hantering van die saak aan alle kante in diskrediet gebring word, bo verdenking kan bly. Anders kan mettertyd ook die nodige vertroue, wat nodig is vir 'n gesonde ekonomie, daaronder ly.
Ten tweede kan die saak nie verder in die hande van Ngcuka gelaat word nie. Teen die agtergrond van talle bewerings oor 'n magstryd tussen hom en Zuma is sy onpartydigheid nie vanselfsprekend nie.
Daarom moet die president spoedig 'n behoorlike kundige en onpartydige kommissie aanstel wat die saak tot op die bodem kan ondersoek. 'n Regterlike kommissie, met alle magte wat die wet toelaat, lyk na die beste opsie.
Die punt is dat daar elke keer iets betreffende die strategiese wapenaankoop-pakket vir die weermag uitdop. Hier is te veel rokies wat in die lug ronddwarrel. Eindelik moet iemand al die drade ontwar en orde in die chaos van bewerings, feite en fiksie bring.
Gesien die ANC se eie bedenklike hantering van die saak, is so 'n onafhanklike ondersoek dringend noodsaaklik.
Met erkenning aan Die Burger.