Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-08-29 Reporter: Barnie Louw

Klagte van Oorbesteding Niks Nuuts

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-08-29

Reporter

Barnie Louw

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Kaapstad - Die onlangse bewerings oor adj.pres. Jacob Zuma wat bo sy vermoë leef - soos vervat in die klagstaat teen sy finansiële raadgewer, mnr. Schabir Shaikh - is niks nuuts nie.

Reeds in Februarie 1998 is berig dat Standard Bank moontlik beslag kan lê op 'n huis en ander besittings van Zuma (destyds LUR vir ekonomiese sake in KwaZulu-Natal).

Daar is berig dat die bank in Oktober 1997 'n beslissing teen Zuma in die Durbanse hooggeregshof gekry het oor skuld van R120 000 op sy oortrekkingsgerief en 'n agterstallige bedrag van R70 000 op sy verband van R400 000 op 'n huis in Killarney, Johannesburg.

Luidens die klagstaat teen Shaikh het Standard Bank in Oktober 1997 die beslote korporasie waarin Zuma se huislening van R443 618,52 uitgeneem is, gedagvaar vir onbetaalde paaiemente. Zuma het dié bedrae gedeeltelik in Februarie 1998 vereffen. In September 1998, luidens die klagstaat, was hy R105 717 oortrokke op sy rekening by Standard Bank.

In Julie 1998 is berig dat Zuma en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, tóé nog minister van gesondheid, die skoolgeld betaal het wat hulle geskuld het aan die Manor Gardens Preparatory School, een van Durban se voorste laerskole. Die skool het dit vroeër glo oorweeg om hulle te dagvaar. Hulle is kort voor dié voorval geskei.

Dr. Zuma het toesig oor hul vier kinders en kry R7 000 per maand om hulle te onderhou. Die twee Zumas was gesamentlik vir die betaling van skoolgeld aanspreeklik.

Die presiese bedrag wat verskuldig was, is onbekend. Net een van die vier meisies gaan hier skool.

Luidens die klagstaat het Shaikh, of sy maatskappye, onder meer Zuma se kinders se skool- en universiteitsgeld betaal.

In Mei 2000 is berig dat Zuma by twee geleenthede 'n lugmaghelikopter ingespan het om by een van sy twee vroue te gaan kuier - 'n uitstappie wat die belastingbetaler glo by die R67 000 uit die sak gejaag het.

Zuma is glo met 'n Oryx-helikopter gevlieg om besoek af te lê by mev. MaKhumalo Zuma, wat in Nkandla in KwaZulu-Natal woon. Sy woordvoerder het destyds gesê die vlugte was noodsaaklik omdat Zuma daarop geregtig is om af en toe huis toe te gaan.

Skaars 'n maand tevore het Zuma glo R557 500 bestee aan twee voertuie, 'n Mercedes-Benz en 'n Toyota-viertrek, vir sy vroue, mevv. Kate Zuma en MaKhumalo Zuma.

Luidens die klagstaat het Zuma tussen 1 Oktober 1995 en 30 September 2002 R1 161 562,71 ontvang van Shaikh of maatskappye waarin Shaikh 'n belang het.

Talle ander bewerings oor Zuma se geldsake word ook gedoen, onder meer dat hy in 1999 en 2000 onderskeidelik R37 000 en R29 000 per maand oorbestee het.

Met erkenning aan Barnie Louw en Die Burger.